’n Strandse gesin van vyf, wat verlede week al hul besittings in ’n brand verloor het, reik nou dringend na hul medemens vir verblyf, hulp en ander ondersteuning uit.
Johanna Faviers se lewe en dié van haar gesin het Vrydag 10 Februarie onherroeplik verander toe die gesin se woning asook ander strukture rondom die huis afgebrand het.
Die brand het omstreeks 15:00 in Geldenhuysrylaan in Casablanca uitgebreek. Die brandweer het teen 15:14 ’n oproep oor die brand ontvang en brandbestryders was teen 15:34 al op die toneel.
Dit was egter te min en te laat, en die gesin het alles verloor.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het bevestig die oorsaak van die brand is steeds onbekend. Vier informele strukture en een formele woning het afgebrand.
“Ons besittings is als weg, maar gelukkig is nie een van ons beseer nie. Ons grootste hartseer is dat ons hond, Mishka, doodgebrand het,” vertel Faviers.
Sy sê hulle het van hul dokumente, soos identiteitskaarte asook trou- en haar man se doodsertifikaat, uit die brand gered.
“Dit was ’n baie groot skok toe ek hoor ons huis brand af.”
Carelse het bevestig die brand is teen 16:52 geblus.
Twee brandweerwaens en een watertenkwa het op die brand gereageer.
“Ons het niks oor nie. My dogter is in gr.11 by Rusthif Sekondêre Skool, en sy het al haar skoolklere, haar skooltas en skoolskoene in die brand verloor.
“Ons vra die gemeenskap om ons met ’n dak oor ons kop, kos, klere asook skoolklere en ’n skooltas vir my dogter te help,” pleit Faviers.
Indien jy of iemand wat jy ken Faviers en haar gesin kan help, kan jy Charne Lewis by 072 174 9205 bel. Lewis sal seker maak dat die gesin die goedere kry.



