’n Verwoestende brand wat vanoggend (Donderdag 30 Maart) in Kays Caravan Park, Strand, uitgebreek het, het twee wonings vernietig en altesaam vyf inwoners haweloos gelaat.
Rook het kort voor 09:00 van die park in Woltemadestraat in die lug getrek en soos ’n donker wolk oor die woonbuurt gehang.
Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms was gewapendereaksie-beamptes van die private veiligheidsmaatskappy Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), lede van Strand-buurtwag en Afriforum Strand, asook beamptes van wetstoepassing reeds op die toneel.
Die woonwapark se ingang is om veiligheidsredes deur buurtwaglede vir motors afgesper. Die vlamme was hoog en het reeds die twee wonings verswelg. Dié tragiese prentjie was ’n bitter pil om te sluk vir veral een van die brandslagoffers, wat in trane toegekyk het hoe haar tuiste, wat sy met haar verloofde (53), haar seun (16), kleinseun (vyf) en drie katte deel, in puin gelê word.
’n Emosionele Nicolene Kallis (44) het tussen die trane deur vertel sy weet nie hoe die brand ontstaan het nie. “Ek het my kleintjie skool toe geneem. Ek het teruggekeer en met ’n mede-inwoner af in die pad gesels toe ek geroep en meegedeel word dat my huis in vlamme uitgebars het,” het sy gesê.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, is reddingspanne omstreeks 09:00 na die brand by die woonwapark ontbied. Brandweerspanne van Strand, Somerset-Wes en Sir Lowry’s Pass is met drie brandweerwaens en twee watertenkers na die toneel ontplooi.
“Die brand het twee wonings vernietig en vyf mense haweloos gelaat. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is steeds onbekend.”
Volgens Carl Gersbach, voorsitter van Strand-buurtwag, het lede vinnig opgetree om humanitêre verligting te bied en via WhatsApp ’n beroep gedoen op groeplede om skenkings vir die brandslagoffers, wat die Kallis-huishouding en ’n 74-jarige vroulike inwoner insluit. Van die goedere wat teen 17:00 ingesamel is, het donasies van beddens en matrasse, ’n slaapbank, kos en klere, huisware en meubels ingesluit en sou later by die woonwapark se kantoor ingegee word vir verspreiding.




