Die Macassar-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ’n peuter in die gemeenskap doodgebrand het.
Die voorval het Sondag (8 September) in die vroeë oggendure plaasgevind en die lewe van ’n driejarige kind geëis. Die klein brandslagoffer is later as Omimolhi Peter geïdentifiseer, wat sy engelvlerkies weens die vlammehel gekry het.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is owerhede omstreeks 00:20 deur gemeenskapslede, wat op die voorval gereageer het, ontbied. Die brand het weens onbekende redes by een van die Macassar Village-hokkies agter die Shell-vulstasie ontstaan. Die sinkplaat-hokkie van die oorledene se ouma het na bewering in vlamme uitgebars nadat die buurmeisie, wat weens verhoudingsprobleme saam met haar maande oue baba oorgeslaap het, die woning se deur afgetrap het.
“Volgens die ouma het hulle geslaap toe die vermeende dronk kêrel amok maak. Sy en haar twee kleinkinders – vier en drie (die oorledene) – wat saam met haar woon, asook die meisie en haar baba, het geslaap. Met die rumoer het almal behalwe die oorledene, wat op die grond gelê en slaap het, wakker geword en weens ’n woordewisseling wat tussen die paartjie ontstaan het, uitgegaan. Gemeenskapslede se noodkrete dat haar woning brand, het oomblikke later gevolg,” het die woordvoerder gesê. “Die vlamme het vinnig versprei en die woning verswelg. Die seuntjie kon nie uit die brandende hok gered word nie.”
Die 42-jarige grootmoeder, haar vierjarige kleinkind sowel as die buurmeisie en haar baba het sonder beserings ’n vlammedood vrygespring.
Die Macassar-polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom, veral omdat die brandtoneel ná die tragiese voorval deur skelms geplunder is. Mense kan die polisiekantoor by 021 857 7100 skakel.
Die Macassar-polisie ondersoek ook verskeie sake van strafbare manslag nadat ’n noodlottige ongeluk later Sondagoggend op die N2 plaasgevind het.
Polisiebeamptes is omstreeks 04:10 na die toneel naby die Baden Powell-brug ontbied, waar twee voertuie – ’n Volkswagen Polo en Chevrolet Aveo – in ’n botsing reg van voor betrokke was. Volgens die polisie lyk dit asof die Chevrolet, met twee manlike insittendes insluitend die bestuurder, in die verkeerde baan in die rigting van Kaapstad gery het toe dit teen die Polo, wat in die rigting van Somerset-Wes gery het, gebots het. Laasgenoemde voertuig het drie insittendes gehad – ’n manlike bestuurder, ’n vroulike passasier en nog ’n insittende agter.
Albei motorbestuurders en die agterste insittende van die Polo is op slag dood, en twee passasiers – een van elke voertuig – is in ’n kritieke toestand na die hospitaal vervoer.
Die polisie se ondersoek duur voort.



