Daar word ’n beroep op Helderbergers gedoen om hul hand in hul sak te steek ter ondersteuning van ’n matrikulant wat haweloos is nadat ’n verwoestende brand sy Macassar-tuiste in puin gelê het.
Ezile Maduna is sonder ’n heenkome nadat sy woning in Macassar Village Maandagmiddag (26 Junie) tot op die grond afgebrand het.
Die 20-jarige, wat ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Zandvliet is en alleen in ’n sinkplaat-hokkie in die Nyakhatisa-informele nedersetting woon, herroep dat hy omstreeks 12:00 deur ’n buurvrou opgebel is met die nuus dat sy tuiste in vlamme opgaan.
Die jongeling was ten tyde die voorval by die werk toe hy na die hartverskeurende toneel ontbied is. Wat olie op die vuur giet, is dat Ezile geen familie en naasbestaandes het om hom in sy tyd van nood te ondersteun nie.
Volgens die brandslagoffer het hy in ’n enkelouer-huishouding saam met ’n jonger suster grootgeword. Ezile het glo op die ouderdom van sewe sy primêre versorger, sy geliefde ma, weens siekte aan die dood afgestaan. Hy ken nie sy pa nie en is gevolglik as weeskind in die pleegsorgstelsel geplaas. Die Strand-boorling is later glo aan die sorg van ’n pleegma in Macassar toevertrou, maar het weens onbekende redes die besluit geneem om liewer op sy eie voete te staan.
Ezile het vir hom ’n lewe uitgekerf en streef daagliks daartoe om bo sy omstandighede uit te styg. As toegewyde leerder wat deursettingsvermoë uitbeeld, vind hy homself bedags op die skoolbanke van die plaaslike hoërskool om ’n sukses te maak van sy skoolloopbaan. Smiddae ná skool is dit reguit na die kettingwinkel Shoprite by die Macassar-winkelsentrum waar hy as winkelassistent sy brood en botter verdien. Maar, die jongeling is vandeesweek nog ’n knou deur die lewe toegedien.
Hoewel bure en mede-gemeenskapslede danksy vinnige optredes en onverpoosde pogings met emmers water en sand die vlammehel wat Ezile se blyplek geëis het, in bedwang gehou en later geblus het, het hy alles in die verwoestende brand verloor.
Met sy besoek aan die brandtoneel net ’n klipgooi van Valsbaai Primêre Skool in Bermudastraat het Ezile verslae na die smeulende oorblyfsels van sy tuiste en besittings gestaar. Gemeenskapslede en vriende wat hulle beywer het om ’n helpende hand te verleen, was toe hard besig om die plate bymekaar te maak wat oorgebly het.
Ezile het die voorval by die Macassar-polisiekantoor aangemeld. Enigiemand wat in staat is om te help, kan donasies maak. Skenkings van boumateriaal, huishoudelike ware en toestelle, en klere en kos sal waardeer word. Vir meer inligting, bel Ezile by 060 472 3197.




