Vriende van Alton Roberts help om skoon te maak nadat sy wendyhuis Sondag afgebrand het. Foto: Rick Marais


’n Agterplaaswoning in Macassar het Sondagmiddag (18 September) afgebrand met alles wat die bewoner besit het, binne-in.

Alton Roberts, wat op pad apteek toe was toe die brand by sy wendyhuis in Musicalaan uitgebreek het, sê hy het alles in die brand verloor.

“Ek was so net ná 13:00 se kant op pad apteek toe vir bloeddruk-medikasie toe ek die oproep ontvang dat my huis aan die brand is,” vertel ’n sigbaar ontstelde Roberts.

Die 48-jarige brandslagoffer het hom huis toe gehaas en toe hy daar aankom, gesien dit is reeds te laat om sy woning te red.

“Ons het ’n vuurtjie begin want ek en ’n paar vriende wou braai. Ek was op pad apteek toe en die manne wat daar was, het vullis uitgegooi, en toe steek die wind op. Die vuurtjie was teen daardie tyd kole. Daar was nie ’n wind of iets nie, maar toe kom die wind skielik op en dit het seker veroorsaak dat die wendyhuis aan die brand geslaan het. Vyf minute later kon hulle niks meer doen om die brand te blus nie,” sê Roberts.

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, het bevestig brandbestryders het die vlamme om 13:20 geblus.

“Die oorsaak van die brand is steeds onbekend. Twee brandweerwaens van onderskeidelik Macassar en Khayelitsha het die brand bestry,” voeg Carelse by.

Die brandweer het ’n vrou vir rookinaseming behandel.

Roberts, wat al sy besittings in die brand verloor het, vra mense in die gemeenskap vir hul goedhartigheid as hulle enigiets kan skenk, om hom by 066 014 9473 te bel, “want elke skenking sal my kan help om my lewe weer te herbou”.. In twee vorige afsonderlike voorvalle moes die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste ook inspring om brande in bedwang te bring. In die eerste voorval het ’n brand omstreeks 14:50 verlede Dinsdag by ’n motorhuis in Karl Kielblock-rylaan in Goedehoop ontstaan. Volgens Carelse het 12 brandbestryders asook twee brandweerwaens en ’n watertenkwa van onderskeidelik Strand en Somerset-Wes op noodoproepe gereageer.

“Twee voertuie is gedeeltelik in die brand beskadig en die woning het net rookskade opgedoen. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie,” sê hy.

Carelse voeg by die brand is om 15:50 geblus en geen beserings is aangemeld nie aangesien die brand tot die motorhuis beperk is.

’n Huis is later dieselfde dag omstreeks 23:00 beskadig toe ’n brand uitgebreek het nadat ’n brandende kers glo die brand laat begin het. Carelse het bevestig die kamer agter in die woning is vernietig, maar niemand is in die brand beseer nie.

Die brand is net ná middernag geblus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article