‘n Verwoestende brand
het vroeër vanmiddag (Donderdag 1 September) by ‘n woonperseël in Strand
uitgebreek en 40 mense haweloos gelaat ná 11 wonings tydens die voorval
afgebrand het.
Volgens Jermaine
Carelse, woordvoerder vir die Stad van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste,
het brandweerpersoneel omstreeks 13:20 op die voorval reageer. Dit nadat ‘n
noodoproep ontvang is van ‘n Wendy-huis in Solly Arendse-slot wat vlamgevat
het.
“Brandweerspanne van
Strand, Sir Lowry’s Pass en Macassar het met drie brandweerwaens, ’n
watertenker en ‘n reddingsvoertuig op die voorval reageer. Altesaam 19
brandweermanne het daarin geslaag om die brand te beheer en teen 14:50 te
blus,” het hy gesê.
Carelse het bevestig
dat twee huise en nege informele strukture in die brand vernietig is, en 40
mense is haweloos gelaat.
Geen beserings is
aangemeld nie en die oorsaak van die brand is steeds onbekend.



