Dis Braaidag, en Suid-Afrika se Mnr. Braai, Jan Braai, beantwoord ’n paar vrae oor hierdie passie van hom:
Wat is jou gunstelingsnit om te braai, en waarom? Hierdie dinge verander natuurlik gereeld, maar tans is my gunstelingsnit beesvleis ’n filet, omdat ek toevallig die afgelope weke ’n paar lekker ondervindings daarmee gehad het. Beesstertpotjie is ook altyd baie hoog op my lys. My gunstelinglam is kerriesosaties, want dit is maar net altyd vir my lekker – ek is dol oor kerrie. My gunstelinghoender is tans vlerkies, wat ek eers net so met sout bros braai en dan naby aan die einde met my eie soet en taai sous verf en dan klaar braai. My gunstelingvarkvleis is tans varklies, wat jy lekker stadig vir ’n paar ure in jou buitelugoond gaarmaak.
Waar is jou gunstelingplek om te braai, en hoekom? Suid Afrika is vol pragtige plekke om te braai. Deesdae is dit lekker om by die huis te braai omdat al my braaigereedskap by die huis is, dus kan ek braai nes ek wil.
Wat is jou gunstelingbykos vir ’n braai? Braaibroodjies, aartappelslaai en mieliepap.
Ander toerusting waarmee ek altyd braai, is twee tange – een vir die kole en een vir die vleis – sowel as leerhandskoene sodat ek nie my hande brand nie, en ’n termometer vir die vleis om te weet wat in die vleis aangaan sodat jy dit perfek kan braai.
Gas of kole? Ek braai meestal met hout, maar tussen gas en kole maak ek heelwat meer van gas gebruik, want ek het ’n gasstoof in my kombuis, dus maak ek elke dag kos deur gas te gebruik, maar nie noodwendig vir braai nie.
As jy nie hout kan gebruik nie, gebruik jy houtskool of brikette, en hoekom? Ek vind houtskool baie meer natuurlik as brikette, al is dit net omdat dit meer natuurlik gevorm is.
Wat is die grootste sonde wat ’n braaier kan pleeg? Een van die sondes wat die meeste gepleeg word, is dat mense vleis te gaar braai. Die grootste sonde egter is om nie op nasionale Braaidag te braai nie!
Wat gee jy vir ’n braaier wat alles het? ’n Mes-skerpmaker – gewis ’n slypstaaf, maar dan ook ’n slypsteen of, nog luukser, ’n elektriese slypmasjien. Daar is gans te veel stomp messe in braaikombuise in die wêreld.
Vertel kortliks wat jy vanjaar op Braaidag doen? Ek lei deur ’n voorbeeld te stel en ek gaan braai! My dag is gewoonlik ook vol mediaonderhoude, so tussen my telefoon antwoord en met joernaliste praat en fisiek braai, vlieg die dag nogal vinnig verby. Tans lyk dit of ek in Durban gaan wees om die Springbok-wedstryd by te woon en natuurlik daar te braai.



