’n Pensioentrekker van Macassar veg om sy lewe in die hospitaal nadat hy buite sy tuisdorp deur ’n motorvoertuig raakgery is.
Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige sowel as dronkbestuur ná die voorval waarin die 67-jarige voetganger lewensbedreigende beserings opgedoen het.
Volgens ’n polisiewoordvoerder het dit voorverlede Maandag (11 September) op Kramatweg buite Macassar gebeur. Owerhede het op die voorval reageer nadat twee polisiebeamptes, wat in die omgewing gepatrolleer het, omstreeks 15:45 op die ongelukstoneel naby ’n luukse woonlandgoed ’n klipgooi weg van die Kramatweg/R102-kruising afgekom het.
Kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval wys hoe die voetganger met ’n sakkie in waarskynlik die rigting van Macassar op die sypaadjie aangeloop kom en ná ’n vermeende mislukte poging om die aankomende voertuig te ontduik, deur die groen Volkswagen Citi Golf getref word.
Die slagoffer is weens die impak deur die lug geslinger en het langs die pad beland.
Die beeldmateriaal toon ook hoe minstens vier insittendes van die voertuig uitklim om ondersoek in te stel en oënskynlik verskeie artikels uit die motor gooi.
Met owerhede se aankoms het hulle die motorvoertuig asook die slagoffer met ernstige beserings langs die pad aangetref.
Die Macassar Village-inwoner is deur nooddienste na die hospitaal vervoer.
Die bestuurder is op die toneel in hegtenis geneem en sy bloed-alkoholvlak is laat toets nadat ’n drankbottel in die voertuig gevind is.
Die 44-jarige van Eersterivier het voorverlede Woensdag (13 September) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn en R2 000 borgtog is toegestaan.
Die saak is tot Maandag 16 Oktober uitgestel wanneer van die beskuldigde verwag word om weer in die hof te verskyn.
Die slagoffer se 56-jarige eggenoot het Vrydagmiddag (22 September) ’n telefoniese onderhoud aan die koerant toegestaan en gesê haar geliefde man is ná die ongeluk in ’n kritieke toestand in die Helderberg-hospitaal opgeneem en later na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
“Hy is steeds op life support en het vanmiddag al sy vierde operasie ondergaan om sy asemhaling te bevorder,” het die eggenoot meegedeel. “Dis terrible om hom so te sien ly. Die voorval het ons lewe tot stilstand geruk. Al waarvoor ons hoop, is genesing.”
Volgens die eggenoot het die slagoffer ten tyde die ongeluk huis toe geloop nadat hy by familie in Eersterivier besoek afgelê het.
Sy het ook vertel die slagoffer het sy enigste seun in Augustus aan die dood afgestaan en is baie geliefd deur haar twee kinders en kleinkinders, wat hom as hul eie pa en oupa beskou.
In ’n afsonderlike voorval Dinsdag 12 September het die Macassar-polisie omstreeks 16:30 op ’n ongeluk reageer waarin ’n jong fietsryer in Basestraat deur ’n motorvoertuig getref is.
Luidens ’n polisieverslag was die 17-jarige seun een van ’n groep jongelinge wat aan albei kante van die pad fietsgetrap het.
Die slagoffer het na bewering voor die motor, ’n silwer Ford Fiesta met twee insittendes, insluitend ’n kind, inbeweeg toe hy raakgery is.
Die bestuurder het die polisie ontbied en ’n saak van roekelose en nalatige bestuur is geopen.



