Die ongelukstoneel Maandag­middag in Hoofweg, Strand. Foto: Rick Marais


’n Saak van strafbare manslag word deur die Strand-polisie ondersoek nadat ’n 50-jarige voetganger Maandagmiddag (18 September) in ’n botsing op die hoek van Hoofweg en Broadway-boulevard geëis is.

Die ongelukslagoffer is bekend as die vriendelike gesig wat penne by die kruising, asook in die Somerset-Wes-middestad, verkoop het. Cornelius Christian Bissolati van Somerset-Wes het sy lewe verloor toe een van vier voertuie wat in die botsing betrokke was in hom vasgery het.

Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, Strand-polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 15:35 plaasgevind en Bissolati noodlottige beserings opgedoen.

Die oorledene was beter bekend as die man wat met ’n groot wit plakkaat in onderskeidelik Strand en Somerset-Wes gestaan het terwyl hy swart penne teen R5 elk verkoop het.

Luidens ’n polisieverslag was ’n swart Volkswagen Polo, silwer Volkswagen Jetta, blou Daihatsu Sirion asook ’n wit Ford Ranger by die ongeluk betrokke.

Die bakkie en die Sirion het teen mekaar gebots. Die blou motor het toe vermoedelik vir Bissolati asook ’n paal getref waarby hy gestaan het.

Die verkeersteken op die paal het toe na bewering deur die lug getrek en die silwer voertuig getref. Nadat die bestuurder van die Daihatsu die paal getref het, het sy (die bestuurder van die voertuig) uitgeswenk en die swart Volkswagen Polo getref.

“Die voetganger is op die toneel dood verklaar. Die bestuurders van twee van die voertuie het geringe beserings opgedoen terwyl die ander twee bestuurders ongedeerd is,” het Beukes bevestig.

Skoonmaakwerk was tot omstreeks 20:30 aan die gang en wetstoepassers asook sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte het almal hul moue opegerol in deelname.

“Ons het by die twee verkeersligte diens verrig,” sê Lillian Albertyn, die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se buurtwag-koördineerder wat deel was van die skoonmaakproses.

Kort ná die ongeluk het heelwat mense sosiale media gebruik en kommentaar gelos oor Bissolati en hoe hy met sy penne en glimlag hul lewe beïnvloed het.

Een so ’n persoon was KC Gericke, veiligheidsvoorsitter van die AfriForum Strand Patrol-buurtwag, wat hartseer was om van Bissolati se dood te verneem.

“Vanaand neem ons afskeid van die ‘Black Pens’-verkoper. Ons verstaan jy het altyd ’n glimlag op jou gesig gehad, soveel mense praat vandag oor jou.

“Jou naam was Neels. Maar vandag is soveel mense se lewe ’n bietjie meer leeg, want jy is weggeruk van die aarde af. Mag jou siel in vrede rus, mag jy nou met jou eie penne in die Hemel skilder,” het Gericke op sy Facebook-blad geskryf.

In dié plasing het Ansie Loma Bissolati, se dogter, gesê “Rus in Vrede, Dad.”

Corrie Swart het ook sy medelye op Facebook gedeel oor Bissolati, wat hy “Oom Pen” noem, en hy beskryf hom as iemand wat altyd vriendelik was en altyd reggestaan het om sy medemens te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article