Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat twee mense, insluitend ’n kind, in ’n noodlottige ongeluk dood is.
Die voorval het Vrydagmiddag (12 Mei) in Macassar-weg gebeur toe twee voertuie – ’n silwer Toyota Corolla en ’n wit Toyota Quantum-minibustaxi – gebots het. Twee insittendes van die motor, die 37-jarige bestuurder en ’n agtjarige meisie, het in die botsing omgekom.
Die formele uitkenningsproses is teen druktyd Dinsdagoggend (16 Mei) nog nie afgehandel nie en die identiteit van die slagoffers is nie amptelik bevestig nie.
Volgens sers. Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, is die kind op slag dood nadat sy uit die voertuig geslinger is, en die bestuurder is met hul aankoms op die toneel dood verklaar.
Adendolf het by verdere navraag gesê die botsing het om 15:50 op ’n draai in die pad gebeur.
“Die minibustaxi het glo in die rigting van Macassar beweeg toe die motorvoertuig in die teenoorgestelde rigting aangekom het. Die vermoede is dat die motorbestuurder moontlik beheer oor die voertuig verloor en dit tot die botsing gelei het,” het sy gesê.
Die minibustaxibestuurder, ’n 47-jarige man van Crossroads, het vertel dat hy met twee werkers, wat hy in Paardeneiland opgelaai het, na Macassar onderweg was.
“Soos ons die Golden Arrow-terrein genader het, het die voertuig voor ons verskyn. Dit het gelyk asof die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het voordat dit die taxi getref, van die pad af gery en in die sloot beland het,” het die minibustaxibestuurder gesê.
“Ek steier steeds van die skok.”
Volgens die minibustaxibestuurder is hy glo net met ’n gebreekte been, snyplekke en ander beserings na die hospitaal vervoer. Hoewel hy gesê het hy sukkel om tot verhaal te kom, het hy sy dankbaarheid vir ’n gespaarde lewe uitgespreek.
“Ek dank God dat Hy my in die holte van Sy hand gehou sodat dat ek die ongeluk oorleef het,” het hy bygevoeg.
Volgens Adendolf is twee ander insittendes van die motorvoertuig, wat die botsding oorleef het, met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.
“ ’n Vroulike insittende is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem terwyl ’n vierjarige meisie in ’n kritieke toestand in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem is,” het sy gesê.



