In lig van Vrouemaand hierdie Augustus het ’n bekende borsspesialis-chirurg en borssiekte-spesialis, professor Carol-Ann Benn, ’n hartroerende pleidooi aan vroue gerig om hulself te verbind tot gereelde borsgesondheidsondersoeke.
Statisties sal een uit elke 27 Suid-Afrikaanse vroue in hul leeftyd deur borskanker geraak word.
“Vroeë opsporing beteken tydige ingryping. As dit vroeg opgespoor word, is borskanker hoogs behandelbaar, en hier is waar openbare bewustheid regtig nodig is. Mammogramme en selfondersoeke is so belangrik omdat ’n vroeë diagnose, tesame met die groot vordering wat gemaak is in die behandeling van borskanker, beteken dat borskanker oorwin kan word,” sê Benn.
“Ons moet baie meer oor borskanker praat as wat ons doen. Ma’s, praat met julle dogters – en julle seuns. Vriende en susters, praat met mekaar daaroor. Maak seker dat diegene naby aan jou op datum is met hul ondersoeke, en ondersteun mekaar deur betroubare bronne van kennis oor die onderwerp te deel,” dring sy aan.
Benn, wat die internasionaal erkende Netcare Milpark Borssorgsentrum van Uitnemendheid (BCCE) in Johannesburg gestig het, sê dat vroue nou baie beter gesondheidsuitkomste het as dié wat in vorige geslagte gediagnoseer is. “Soos ons al hoe beter raak met die behandeling van borskanker, hoef ’n diagnose nie radikale chirurgie te beteken nie. Trouens, sewe uit tien vroue wat met borskanker gediagnoseer word, benodig nie ’n mastektomie nie.”
Benn moedig vroue aan om gereelde borsondersoeke op hulself uit te voer, benewens gereelde mammogram-ondersoeke.
“Sewentig persent van alle borskankers word deur selfondersoek ontdek, maar baie vroue is onseker oor hoe om hul borste te ondersoek. Hulle mag maandelikse selfondersoek as ’n onnodige ongerief beskou of selfs iets om te vermy omdat hulle bekommerd is dat hulle iets mag vind wat hulle kommer gee. Niemand wil angstig voel nie, en die groot voordele van selfondersoek vir die opsporing van borskanker kan nie oorbeklemtoon word nie.”
Sy verduidelik dat hoewel baie mense dink hulle is by lae risiko omdat hulle geen geskiedenis van borskanker in hul familie het nie, 60% van vroue wat gediagnoseer word, geen identifiseerbare risikofaktore het nie. “Borskanker kan enigiemand raak, van jong meisies tot bejaarde vroue en mans ook,” sê sy.
Bewustheid en ondersteuning
“As iemand wat jy ken met borskanker gediagnoseer word, praat met hulle oor hoop; moenie hulle oorweldig met doem en somber stories van behandeling uit die verlede nie. Die vooruitsigte is vandag soveel helderder. Sê vir hulle jy verstaan dat dit moeilik kan wees om dapper te wees, maar met die regte ondersteuning en mediese span agter hulle, is dit makliker om hoopvol te voel. Leer jouself oor selfondersoek sodat jy kan help om diegene naby aan jou te leer. Dit sal ons help om die bewustheid te skep wat ons nodig het.”
Benn bestuur Afrika se eerste en enigste Netcare borssorgsentrum wat geakkrediteer is deur die Amerikaanse Kollege van Chirurge se Nasionale Akkreditasieprogram vir Borssentrums (NAPBC) en by Netcare Milpark-hospitaal geleë is. Die hoogs gerespekteerde sentrum is een van slegs drie eenhede buite die Verenigde State van Amerika wat volle akkreditasie deur die NAPBC ontvang het, wat beteken dat die Netcare Milpark BCCE beskou word as op die vlak van sorg gelykstaande aan soortgelyke top-eenhede in die VSA.
“Ons volg internasionale riglyne, sodat die pasiënt weet hulle is veilig en kry die beste behandeling wat ons vir hul diagnose kan gee,” sê Benn. Akkreditasie word slegs toegeken aan daardie programme wat verbind is tot die verskaffing van die beste moontlike standaarde van sorg aan pasiënte met borskanker. Hierdie dienste is ook beskikbaar by die bors-eenhede by Netcare Alberton, Netcare Linksfield, Netcare Olivedale en Netcare Park Lane hospitale deur spesialiste wat ook deel is van die akkreditasie.
Die Netcare Milpark BCCE is ’n eenstop-sentrum waar vroue, meisies en mans holisties behandel word deur ’n multidissiplinêre span van mediese praktisyns. Die span sluit in chirurge, bestraling onkoloë, plastiese en rekonstruktiewe chirurge, mediese onkoloë, patoloë, radioloë, genetiese beraders, fisioterapeute, dieetkundiges, oorlewingspesialiste en gespesialiseerde verpleegsters, wat almal saamwerk om die beste moontlike pasiëntgesentreerde sorg te bied.
“Die voordeel van ’n span van interafhanklike, verantwoordbare gesondheidspraktisyns wat met ’n gemeenskaplike doel optree, is eenvoudig dat dit die beste manier is om ons pasiënte eerste te stel en hulle die volle prentjie van hul toestand en die opsies beskikbaar te bied,” sê Benn.
“Ons weet dit is stresvol om die woord ‘kanker’ te hoor, en ’n mens behoort nie bekommerd te wees oor die navigasie van talle gesondheidsfasiliteite om die regte behandeling te kry nie. Onder een dak, met ’n samewerkende span wat toegewy is aan borskanker, behandel ons vroue, meisies en mans met empatie en deurlopende ondersteuning.
“Ons maak seker die persoon het toegang tot inligting oor nuwe kliniese proewe en die nuutste behandelingsopsies, en ons bied ook genetiese berading en psigososiale ondersteuning. Ons help hulle met finansiële leiding en help hulle om die verskillende rehabilitasiedienste te navigeer. Wanneer hulle hul behandeling voltooi het, beplan ons ’n pad vorentoe vir hulle met oorlewingsorg en ’n deeglike plan met aanbevelings vir opvolgsorg.”
Benn sê dat met groter bewustheid en die vooruitgang in borskankerbehandeling, daar meer ruimte vir hoop en minder rede vir vrees is as ooit tevore.
“Moet asseblief nie bang wees as jy ’n knop voel nie. Moet nie bang wees om vrae te vra of selfs ’n tweede opinie te vra nie. Dit is jou liggaam, nie die dokter s’n nie. Moet nie wag om mediese hulp te kry nie. Daar is nou baie goeie hulp beskikbaar. Raak betrokke by jou eie reis van hoop. Onthou dat nege uit tien vroue wat met borskanker gediagnoseer word, tien jaar later nog leef. Vandag is daar regtig soveel ruimte vir optimisme in ’n borskankerdiagnose.
Hoe word borskanker gediagnoseer?
Benn beklemtoon dat die belangrikste metode van diagnose deurlopende selfondersoek is, wat vroeë opsporing kan ondersteun. “Dit moet opgevolg word met gereelde kliniese borsondersoeke deur jou dokter of borsspesialis en verwysing vir ’n mammogram, ultraklank (borssonar), magnetiese resonansiebeelding (MRI), of ’n kombinasie hiervan.”
Hoe om borsselfondersoek te doen
“Neem tyd om jou borste te ondersoek en raak gewoond aan hoe hulle voel en lyk. Jy moet leer wat normaal is vir jou,” sê sy.
“Kyk na jou borste vir enige verskille, soos veranderinge in die grootte of vorm van die bors, enige onreëlmatighede in die vel, enige veranderinge in die tepel en enige knoppe in die bors of onder die arm. Dit is ’n maklike manier vir vroue om gewoond te raak aan hul borste sodat hulle enige veranderinge wat mag voorkom, kan identifiseer.”
Dit word aanbeveel dat vroue ’n maandelikse borsselfondersoek uitvoer op dieselfde tyd in hul menstruele siklus as hulle nog menstrueer, of op dieselfde dag elke maand.
As jy ’n verandering in jou bors vind, moenie bang wees nie. Maak dadelik ’n afspraak met jou algemene praktisyn, wat jou sal lei oor die volgende stappe om uit te vind of dit regtig iets is wat aandag nodig het.”
Vir hulp oor hoe om ’n effektiewe borsselfondersoek uit te voer, besoek https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/how-can-i-check-for-breast-cancer/.




