Boothengelaar snel paartjie te hulp nadat branders hul rubberboot omgooi

’n Man en ’n vrou is Saterdag (29 April) uit die see gered nadat hul rubberboot in onstuimige seetoestande buite Harbour Island omgeslaan het.


’n Dapper skipper het in ’n oomblik van nood instinktief sy vrese opsygesit en die onstuimige see ingevaar om ’n paartjie wat in die moeilikheid beland het nadat hul vasteromp-opblaasboot omgeslaan het, van ’n waterdood te red.

Die suksesvolle reddingspoging het Saterdag (29 April) net buite Harbour Island in Gordonsbaai afgespeel terwyl die hawe glo bedrywig was met ywerige hengelaars wat aan die 2023- Airmar Offshore Classic-visvangkompetisie van Sondag 23 tot Saterdag 29 April in plaaslike waters deelgeneem het.

Martin Venter vertel toe hy klaar gehengel het, het hy sy boot vasgemeer en klubhuis toe gegaan, waar die vangs ingeweeg is. Die 39-jarige, wat al langer as twee dekades ’n skipper is, sê hulle het die paartjie gewaar toe hulle in slegte seetoestande die water op ’n rubberboot ingevaar het. “Die see was rof met erge golwe van sowat 2 m tot 2,5 m. Ons kon nie glo dat hulle die kans gewaag het nie. Die volgende oomblik hoor ons die rubberboot het omgeslaan,” het Venter, wat onmiddellik in reddingsaksie oorgegaan het, gesê.

“Ek het gebewe; ek was bang. Maar ons is uit die aard van wat ons doen, genoodsaak om te help. Jy plaas jou eie lewe op die spel en waag skade aan jou eiendom – alles om ’n lewe wat reeds in gevaar is, te red.”

Terselfdertyd het ’n omstander ’n rooi noodfakkel in die omgewing afgevuur met die hoop dat iemand dit sou sien en die paartjie te hulp sou snel.

Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) se bedryfshoof, Heyns de Waal, wat by ’n vriend in Harbour Island gekuier het, het die kenmerkende rooi fakkellig gewaar en besef iets is fout toe hy kort daarna Venter se boot op die water see toe sien jaag.

“Ek het nog nooit iemand ’n boot met soveel vaardigheid sien bestuur nie,” het De Waal, wat glo vooruit gehardloop het, gesê.

Venter en nog iemand het die groot deinings getrotseer om die vrou, wat glo in die seestroom vasgevang was en geskree en gespartel het terwyl sy deur yslike golwe geteister is, te probeer red. Venter het met die boot neus eerste die golwe in gevaar en voluit op die vrou afgepeil sodat sy passasier haar uit die water kon red.

Intussen het De Waal en sy vriend, Sean Ebersohn, hulle na die man wat teen rotse in die deinings vasgeslaan is, gehaas. Hy het in ’n spanpoging teen die rotse afgeklim en die man uit die water gelig.

Die NSRI Gordonsbaai se stasiebevelvoerder, Alan Meiklejohn, het bevestig reddingswerkers is Saterdag om 18:13 tot aksie geroep en van die toneel waar ’n vlieërplankryer na veiligheid gebring is nadat hy naby die kus van die Topaz-woonstelle in Strand in die moeilikheid beland het, daarheen gestuur. ’n NSRI-Gordonsbaai-reddingsvoertuig en -reddingswemmers, bygestaan ??deur GB Med Rescue-paramedici en ’n EMS-reddingspan, het ook op die voorval reageer.

Die NSRI-reddingstuig Boetie Woltemade is van die NSRI se Gordonsbaai-reddingstasie te water gelaat.

“ ’n Vissersboot, ’n katamaran, het die vrou bereik. Sy het aan die kant van die vissersboot gehang met ’n bemanningslid wat haar vasgehou het, terwyl die skipper van die vissersboot deur golwe van twee tot drie meter geswoeg het om die vrou na anderkant die brekende branders en weg van die gevaar te sleep, waar die bemanning van die vissersboot haar toe op hul boot kon terugkry voordat hulle deur die hawemond na die hawekant teruggekeer het,” het Meiklejohn gesê.

“ ’n GB Med-paramedikus het op daardie tydstip sy weg oor klippe gebaan om die man te bereik wat teen klippe in die deinings vasgeslaan is, en het die beseerde man na veiligheid op die kus en buite gevaar teruggekry.

“Die man en vrou is met mekaar herenig en het ná mediese behandeling deur paramedici vir geringe snye kneusplekke en hipotermie geen verdere mediese hulp nodig gehad nie.

“Die ongevalle-boot, steeds in die water, was in daardie stadium onbeman en is in die erge branders teen die rotse geslaan.”

Die NSRI se pogings om die boot te probeer terugkry, was ’n te groot gevaar; die ongevalle-boot sou na verwagting verder af op ’n strand aan wal spoel, waar die eienaar die herstel daarvan sal kan gaan ondersoek.

“Almal wat betrokke was, word geprys dat hulle twee mense se lewe gered het,” het Meiklejohn bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article