Sir Lowry’s Pass se geliefde Samuel “Sam” Jacobs het 70 geword en die mylpaal saam met familie en vriende by Ongegund-landgoed gevier. Die spesiale verjaardagontbyt is deur die nuutgevestigde Brotherhood of Men (Bom-squad) geïnisieer en moontlik gemaak. Jacobs is tydens die viering met ’n beeldjie, ’n vrugtemandjie en ’n geraamde rugbytrui vereer. Foto’s: Jamey Gordon


Sir Lowry’s Pass se Brotherhood of Men, oftewel die Bom-squad, en bestuurslede van die Sir Lowrians-rugbyklub, het die afgelope naweek verenig om nog ’n jaar wat tot die lewe van ’n passievolle rugbyentoesias en lojale ondersteuner en welbekende en voorbeeldige gemeenskapslid gevoeg is, te vier.

Danksy die inisiatief wat deur die Bom-squad geneem is, het Samuel “Sam” Jacobs Saterdagoggend (17 Junie) sy 70ste verjaardag in styl saam met familie, vriende en gemeentelede gevier. Jacobs, wat die toonbeeld van nederigheid en vriendelikheid is, het in ’n deftige sportmotor by sy spesiale verjaardagontbyt by die Ongegund-landgoed opgedaag en die oggend saam met geliefdes om die tafel geniet.

Die verjaardagviering het gevolg nadat die geestelik gestremde bejaarde inwoner ’n wrede aanval in sy tuisdorp oorleef het (“Bejaarde aangeval vir R10,” DistriksPos, 21 Julie 2016). Aanstaande maand (Julie) is dit presies sewe jaar nadat Jacobs op ’n Sondagmiddag deur ’n groep seuns in ’n beboste gebied in die Blue Rock-omgewing aangeval en beroof is.

Die koerant het voorheen berig dié vredeliewende inwoner het oudergewoonte gaan stap en is deur ’n seun genader wat geld gevra het. Hy het hom egter verset en nog seuns het op hom toegesak en hom aangeval. Die groep het Jacobs glo aan die bors gegryp en teen die kop geskop en getrap voordat hulle met ’n R10-noot, wat hy in sy broeksak gehad het, weggehardloop het. Jacobs het daarin geslaag om uit die bosse te kom, waar ’n inwoner die bebloede man met ’n gapende wond aan die voorkop aangetref het.

Sedertdien sien sy suster Elaine liefdevol na hom om en het sy namens al Jacobs se sibbe, wat die oggend saam met hom deurgebring het, hul kollektiewe dankbaarheid aan die Bom-squad en die plaaslike rugbyklub uitgespreek. “Die viering is onverwags en word opreg waardeer,” het sy gesê. “Sam was soos ’n kind wat op Kersoggend ’n geskenk oopgemaak het. Dít was vir my ’n riem onder die hart.”

Die verjaardagviering is deel van die Bom-squad se visie en missie om uit broederskap vir mekaar en ander om te gee en uit te reik na diegene wat ’n helpende hand nodig het. Die Bom-squad bestaan uit ’n groep vriende, broers en oudrugbyspelers wat byna almal in Sir Lowry’s Pass gebore is, daar grootgeword het en al jare ’n pad saam loop.

“Sedert ek Sam as jong seun leer ken het, was sy vriendelikheid, opregtheid, liefdevolheid, omgee vir sy medemens en positiewe ingesteldheid teenoor die lewe baie opvallend – ten spyte van sy uitdagings as mens,” het Wilbur Hindley, leier van die Bom-squad, in sy toespraak by die geleentheid gesê.

Hindley het voorts meegedeel dat die trotse Sir Lowry’s Pass-boorling op 13 Junie 1953 as die eersteling van Lucas en Anna Jacobs gebore is.

“Sy houding en omgang met sy medemens het gewis ’n Bybelse inslag. Samuel in die Bybel word beskryf as ’n Godsdienstige held in die geskiedenis van Israel, verteenwoordig in die Ou Testament in elke rol van leierskap wat oop was vir ’n Joodse man van sy dag – ’n siener, priester, regter, profeet en militêre leier,” het Hindley aangevoer.

“Sam is ’n eenvoudige en nederige mens met geen aanstellerigheid nie. Die Bybel beskryf nederigheid as iemand wat God vrees . . . Hy is ’n inspirasie vir ons, want hy openbaar altyd ’n positiewe houding, al loop dinge skeef.”

Volgens Hindley het Jacobs van kindsbeen af ’n diep passie vir rugby en was as tiener altyd vroeg op die rugbyveld saam met die juniors van St. Matthews. Sy gewilligheid om die spelers se rugbysakke te help dra, sand vir die stelskopper te neem, die noodhulpkissie op die veld te dra as ’n speler beseer is en die waterbottels vir die spelers te neem om hul dors te les of maar net oor die besering te gooi, is ten seerste waardeer.

“Sam het nooit ’n wedstryd (tuis of weg) gemis nie. Hy was altyd een van die eerstes op die veld of op die bus. Sam is onmisbaar! Hy is ná meer as vyf dekades steeds by rugby betrokke en is Sir Lowrians se grootste ondersteuner. Hy is gewis ’n legendariese ondersteuner hier in die Pass. Ons kan eindelose staaltjies van Sam as rugbymens vertel,” het hy bygevoeg.

Jacobs is met afloop van die gesellige oggend-onthaal met ’n vrugtemandjie en ’n glasbeeldjie om sy verjaardag te gedenk, vereer. Hy was ook in sy noppies met ’n geraamde Sir Lowrians-rugbytrui, wat die rugbyklub aan hom geskenk het.

Die verjaardagseun saam met lede van die Bom-squad.Foto:

Jacobs saam met bestuurslede van Sir Lowrians-rugbyklub, waarby hy dekades lank betrokke is en waaraan hy sy onwrikbare ondersteuning verleen.

Sam Jacobs saam met sy geliefste suster, Elaine.

Sam Jacobs was in sy noppies met sy verjaardaggeskenke.

Eugene Mayinje, Sam en Elaine Jacobs, en Rolan Macdonald.

Kevin Hindley, die Bom-squad se sekretaris, het as seremoniemeester gedien.

Sam Jacobs saam met die Robyntjies-egpaar.

Sam Jacobs het sy verjaardag saam met familie en geliefdes gevier.

Sam Jacobs saam met sy pastoor, Andry Lottering en sy eggenoot, Ronel.

Isadore Damons, Sam Jacobs en Eric Damons.

Sam Jacobs met lede van die Bom-squad, Enzo, Wilbur en Kevin Hindley.

Sam Jacobs saam met Rolan en Gail Macdonald.

Aubrey Roziers, Sam Jacobs en Christopher Parenzee.

Enzo Hindley oorhandig ‘n vrugtemandjie aan Sam Jacobs.
  v

‘n Deftige Sam Jacobs by sy verjaardagpartytjie.

Sam Jacobs is deur lede van die Bom-squad met ‘n vrugtemandjie bederf. Sy suster, Elaine is ook met blomme vereer.

Bestuurslede van die Sir Lowrians-rugbyklub het hul lojale ondersteuner met ‘n geraamde trui vereer.

Sam Jacobs ontvang ‘n beeldjie om die mylpaal te gedenk. Rolan Macdonald het die oorhandiging gedoen.

Die verjaardagseun saam met lede van die Bom-squad.Foto:

Jacobs saam met bestuurslede van Sir Lowrians-rugbyklub, waarby hy dekades lank betrokke is en waaraan hy sy onwrikbare ondersteuning verleen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article