Die Macassar-inwoner en stoere Springbok-ondersteuner Andrew van Wyk is kort ná die Bokke se Rugbywêreldbeker-oorwinning in die ouderdom van 58 aan vermoedelik ’n hartaanval oorlede.

Credit: SYSTEM

’n Stoere Springbok-ondersteuner wat verlede Sondag (29 Oktober) met trots by sy kerk se erediens sy groen-en-goud-trui sou dra, is kort ná sy span se oorwinning teen die All Blacks te midde van sy vieringe aan vermoedelik ’n hartaanval oorlede.

Andrew van Wyk, ’n 58-jarige ouderling van die VGK in Macassar, was voorverlede Saterdagaand (28 Oktober) kort ná die oorwinning van die Springbokke teen die All Blacks erg opgewonde, en terwyl hy hom gehaas het om by vriende uit te kom wat naby sy huis feesgevier het, het hy na bewering ’n hartaanval gekry en gesterf.

“Toe die eindfluitjie blaas, het Andrew uit sy bed gespring en in die straat afgehardloop na nabye vriende wat die rugby op ’n groot skerm gekyk het. Hy het in die pad inmekaargesak en is toe oorlede,” sê dr. Charles Flaendorp, die leraar van VGK Macassar.

Van Wyk, wat nooit sieklik was nie, het voor die Springbokke se eindstryd ’n vriendelike ooreenkoms met Flaendorp aangegaan en die twee het saamgestem as die Bokke of Nieu-Seeland wen, kan die wenspan se ondersteuners hul span se truie op die kerk se erediens dra.

“Ek moes toe op dié Sondagoggend almal inlig dat ons ouderling oorlede is. Dit was nogal traumaties om die slegte nuus oor te dra aan die lede van wie sommiges hul Springbok-truie aangehad het,” voeg hy by.

Andrew word deur sy leraar beskryf as ’n pligsgetroue en passievolle mens. “Hy het in 15 jaar van my bediening net een kerkraadsvergadering misgeloop. Hy het nooit ’n erediens gemis nie. Hy het ’n punt daarvan gemaak om by voorstellingsgeleenthede by elke partytjie uit te kom. Daaroor het die gemeente hom altyd gespot. Hy het ook ’n wonderlike humorsin gehad.”

Van Wyk word oorleef deur sy vrou, sy drie seuns en ’n kleinkind.

’n Begrafnisdiens vir Van Wyk word eerskomende Saterdag (11 November) by die VGK Macassar gemeente gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article