Ywerige boekwurms is verlede Dinsdag (5 September) die geleentheid gebied om skouers te skuur met twee skrywers wat ter viering van Nasionale Boekeweek (5 tot 11 September) die platform gebied is om insae in hul boeke met lesers te deel.
Die skrywers was Alicia English en Julio Agrella, wat uit pure genot oor hul boeke en hulself gepraat het.
English het die oggendskof benut en oor haar boek, Ek mis my pappa, wat oorspronklik in Engels geskryf en in Afrikaans vertaal is, gepraat.
Sy het met trots meegedeel haar sewejarige seun, Matthew, was grotendeels betrokke by die skryfproses van die boek, wat spruit uit die hartverskeurende verlies van die gesin se patriarg tydens die Covid-19-pandemie.
“Matthew het eendag gesit en teken en luidkeels gesê, ‘Ek mis my pappa’ en ek het dadelik gedink ons moet ’n boek hieroor skryf,” vertel English.
In die boek vertel haar seuntjie die storie van verlies en die leemte wat ná die afsterwe van sy geliefde pa agtergelaat is. “My seun, wat 80% van die boek geskryf het, het al ’n paar keer met die publiek oor die boek gesels.
“Die feit dat hy die storie self geskryf het, het my geïnspireer om ’n uitgewery van my eie te begin waar ek ander jong skrywers die geleentheid wil gun om hul eie stories te vertel,” beklemtoon sy.
Agrella was later dieselfde dag aan die beurt en het gedeel oor sy nuwe boek in die fassinerende Zeus van Wyngaardt-reeks, ’n private speurder, en sy vele avonture.
Die derde boek, Zeus van Wyngaardt en die Amasone van Atlantis, volg ná die twee voriges, Zeus van Wyngaardt en die Godin van die Jag en Zeus van Wyngaardt en die Skrikgodin.
Hy brei uit oor sy skryfproses en vertel dat hy nie resepmatig skryf nie. Nes die skrywer, wie se entoesiasme oor sy stories aansteeklik is, toon sy boeke ook ’n tikkie humor en hy het juis die hoofkarakter, Zeus van Wyngaardt, gekies omdat hy sy onderrig as ’n leerder met ’n unieke dog vreemde naam en van in ’n Afrikaanse skool moes baasraak.
’n Aanhanger, Krige Visser, wat ná die bekendstelling ’n kopie van Agrella se nuutste boek opgetel en begin lees het, het die skrywer geprys vir die feit dat sy boek ’n stem vir middeljare Suid-Afrikaanse mans bied, “want Zeus het deernis en respek en self-twyfel, maar ook absolute sekerheid oor sy identiteit, en bowenal, absolute eerlikheid oor homself en sy plek in die samelewing”.
Visser voeg by: “Die grootste ster is Julio, wat ’n karakter skep waarvoor daar maar ’n bitter klein skuiwergat is gegewe die huidige samelewingsklimaat en veral ook die literêre omgewing. Julio se Zeus glip daar deur juis omdat hy met deernis en eerlikheid geskep is – onbetwyfelbaar gebaseer op baie van sy lewende soort, wat steeds aktief is in die ‘geroerde’ land van ons.”
Die assistent-bibliotekaresse Karen Ellis het gesê die Somerset-Wes-biblioteek streef daarna om veral tydens Boekeweek die plesier en wonder van lees te deel.
“Soveel kinders sukkel om met begrip te lees, terwyl volwassenes so maklik in die warboel van die lewe vasgevang word.”



