Die bekroonde joernalis Julian Jansen sit met sy derde boek, Moord op Stellenbosch, wat nou by boekwinkels beskikbaar is. Foto: Rick Marais


Vir die joernalis Julian Jansen is skryf ’n passie wat hy elke dag uitleef en hy brei met sy tien vingers stories totdat dit perfek is.

Net soos sy vorige twee boeke hoop hy sy nuwe boek, Moord op Stellenbosch, gaan ’n groot sukses wees.

Jansen sit in sy huis in Southfork met ’n mosterd-geel hemp aan, ’n swart denim en ’n paar ou Nike-tekkies. Hy is ’n bekroonde joernalis wat al telkemale berigte geskryf het wat oud en jonk laat regop sit het.

In die huis loop ons verby sy televisiekamer en gaan sit in sy formele sitkamer, met ’n groot tafel die ander kant van die vertrek waarop Jansen se skootrekenaar staan. Hy het tot ’n paar minute tevore ’n aanlyn praatjie met Netwerk24 gehad oor sy nuwe boek, waarin hy oor twee dekades se skok-moorde in Stellenbosch skryf.

“Stellenbosch is ’n woord wat iets oproep van ryk, idilliese mense, studente, goeie wyn, eikebome, pragtige riviere – daardie idilliese dinge. Maar as ’n mens die sluier afruk, kom jy agter wat werklik in Stellenbosch gebeur. Van die moorde was in families; daar is ook tweeledigheid van moord in ryk en arm gesinne, maar ook die misdaad wat gestook word deur erge ekonomiese omstandighede.

“Daar is mense wat in armoede, werkloosheid, blikkies-huise, uitsigloosheid en absolute moedeloosheid leef, en dis hoe hulle tot moord gedryf word. Maar dan kry jy iemand soos Henri van Breda wat gedryf is deur jaloesie en ’n chemiese ding soos testosteroon,” vertel Jansen.

Hy sê toe hy 11 stories vir die boek gereed gehad het, bel ene Danver Adams hom om sy suster se storie aan Jansen te vertel.

“Die moorde op Adams se suster, Charmelin Davids, en dié van Felicity Cilliers, Hannah Cornelius asook Erin van Rensburg het my die meeste aangetrek. Ek kan nie praat oor Davids sonder om emosioneel te raak nie. Sy het ’n stalletjie gehad – ’n biltong-stalletjie. Sy was nie juis slim met grade agter haar naam nie, en sy was nie ryk nie. Sy het daarvan gehou om mooi aan te trek. Sy was mollig, maar lief vir haar man. Haar boetie sê sy was vroeër sieklik en die dokter het gesê sy sou nie oorleef nie, maar toe bring hulle haar by. Sy het toe met haar skoolliefde getrou, en dis hy wat haar vermoor het. Sy het gedroom om eendag kinders en ’n man te hê, maar dieselfde man het haar verraai.”

Hy sê wat in die boek deurskyn, is die meesterlike speurwerk van die vinkel-en-koljander-speurders sersante Marlon Appollis en Stephen Adams van die Stellenbosch-polisie.

“Dié twee doen al die afgelope 16 jaar uitstekende werk in daardie omgewing. Hul sukses lê in hoe hulle sake ondersoek, alles aanteken en dan verseker dat die aangeklaagdes suksesvol vervolg word. Dis wat hulle so goed maak.”

Jansen sê die boek vertel die verhale van wit, swart en bruin mense van regdeur die spektrum, wat in Stellenbosch vermoor is.

“Ek moes vir die boek nuwe inligting gaan soek, en dit was soms moeilik – ek moes krap. Ek moes ook elke week nadat Rapport gesak het, op ’n Sondag en ’n Maandag kom sit om te skryf aan die boek, want die res van my week fokus ek voluit net op [my werk by] Rapport.”

Hy vertel toe hy nog ’n onderwyser was, het hy nooit geweet hy kan skryf nie, maar het vir Rapport begin skryf, en later vra hulle hom om ’n weeklikse rubriek te skryf voordat hulle hom genader het om vir Rapport te kom werk.

“Vir my gaan dit om die stories so spannend as moontlik te skryf. Dis soos Hannah Cornelius se storie, waar ons dit beskryf het as ‘Die nag van die Wolwe’, en ons het dieselfde beskrywing ook in die boek gebruik. As ek vir die koerant skryf, probeer ek die berigte skryf asof dit uit ’n boek kom,” vertel hy.

Destyds, met die Henri van Breda-saak, het ’n oudspeurder oor sy pad gekom en hy het Jansen inligting oor die saak begin gee.

“Ek het die speurder van geen kant af geken nie, maar as gevolg van sy hulp kon ek sterk voorbladberigte oor Henri se saak skryf danksy inligting wat geen ander koerant gehad het nie,” onthou Jansen.

Die polisie het later die inligting in kluise begin toesluit, maar dan verskyn ’n berig weer in Rapport met al die nuutste inligting oor die saak.

Jansen is in 2017 deur Maryna Lamprecht van Tafelberg-uitgewers vir ’n koppie koffie genooi, wat toe in ’n aanbod om die boek Die De Zalze-moorde te skryf, geëindig het.

“Jy skrik jouself lam, maar dan sê jy ja. Dis soos Richard Branson altyd sê – ’n mens moet ’n uitdaging aandurf, al weet jy nie hoe dit werk nie; jy kan altyd leer. So, toe sê ek ja vir die boek en begin skryf.”

Die boek het baie goed verkoop en dit het nie net in Afrikaans verskyn nie, maar ook in Engels.

“Omdat dit in Engels was, het ’n talentsoeker vir ’n filmmaatskappy in Los Angeles die boek raakgelees en hulle het toe vir filmregte gevra. Ek het geskrik en dit aan NB-uitgewers gestuur en gevra hulle moet dit hanteer. Later het ons ’n Zoom-gesprek gevoer. Ons was in Kaapstad, een ou in Los Angeles en die ander een in New York. Ek was nog nooit in so ’n gesprek nie, en daar koop die maatskappy die filmregte vir die De Zalze-moorde se boek. Toe kom die kontrak en ek teken dit, maar Covid-19 het produksie met twee jaar uitgestel en ons kyk iewers in volgende jaar vir die verfilming van ’n TV-reeks.”

Ná die suksesse het Lux Verbi-uitgewers hom genader en gevra of hy ’n boek wil skryf. Hy spring toe dadelik in en sê hy het ’n boek in gedagte.

“Ek het in my skooljare geleer hoe om met kinders se harte te werk. Ek het met hulle gepraat en agtergekom die kinders kom uit toksiese omgewings, en die meeste van die seuns kom uit enkelouerhuise – dis seuns wat sonder pa’s grootgeword het. Ek kom uit ’n huis waar my pa nie fisiek afwesig was nie, maar hy was emosioneel wel afwesig. Ek kon ook ’n skollie gewees het, maar rolmodelle het my gered,” vertel hy.

Hy skryf toe die boek Seuns sonder pa’s en vertel die boek het baie goed verkoop. Hy ontvang gedurig goeie terugvoer oor die boek.

Met boek nommer drie moes hy ’n bietjie van die vet van die stories wegsny en nuwe inligting bywerk. Hy sê mense wat die stories in sy nuwe boek ken, sal verras wees deur die nuwe inligting wat in die Moord op Stellenbosch-boek bygewerk is.

“Stellenbosch is gereeld in die kollig en die media is baie lief om oor misdaad in Stellenbosch te skryf, want die Universiteit Stellenbosch is waar almal van oor die land heen se kinders is en daar is baie oud-alumni van die US. As ’n moord plaasvind, kyk die mense van oor die wêreld heen na die nuus in die nuusblaaie en op televisie. Moord in Stellenbosch verkoop koerante.”

Jansen glo aan harde en eerlike werk, en skryf sy sukses daaraan toe. Hy vertel ook hy het nog twee idees in die kop vir sy volgende boeke, maar hy kan nog nie daaroor uitbrei nie.

V Moord op Stellenbosch is van Maandag 26 September af in Afrikaans en Engels in boekwinkels beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article