Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBS) ervaar ’n voorraadtekort van alle bloedgroepe en doen ’n beroep op alle kwalifiserende skenkers om vandag ’n broodnodige bloed-skenking te doen.
Tipies neem bloedvoorraadvlakke in die provinsie gedurende die Paastyd af namate bloedskenkers ’n welverdiende blaaskans oor die openbare- en skoolvakansiedae neem. Vanjaar het Ramadan ook in Maart begin, wat bykomende druk verhoog aangesien Moslem-skenkers nie bloed tydens die vastyd kan skenk nie.
Bloedskenking neem net 30 minute van jou tyd en jy kan die lewe van tot drie mense met ’n enkele skenking help red. Die WKBS moedig alle bloedskenkers aan om hul naaste bloedskenkkliniek te besoek ter ondersteuning van die talle pasiënte wat gedurende hierdie kritieke tydperk bloed benodig. “Dit maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie – ons moedig jou aan om bloed te skenk,” sê Marike Carli, die bestuurder van openbare betrekkinge by die WKBS.
As jy tussen 16 en 75 jaar oud is, 50 kg of meer weeg, in goeie algemene gesondheid is en ’n veilige seksuele leefstyl lei, behoort jy te kan skenk.
Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, laai asseblief die WCBS-toepassing op Android en iOS af, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244 of besoek www.wcbs.org.za.
Doen iets merkwaardigs – skenk bloed!
Skenk bloed by die volgende Helderberg-klinieke:
- Strand: Die NG kerksaal in Faganstraat – van 14:00 tot 19:00 op Dinsdag 11, 18 en 25 April.
- Somerset-Wes: Die WKBS-bus by die Mugg & Bean-ingang van Somerset Mall – tussen 10:00 en 15:00 Saterdag (8 April); en die NG kerksaal op die hoek van Andries Pretorius- en Dirkie Uys-straat – van 14:00 tot 19:00 Dinsdag 11 en Maandag 17 en 24 April.



