Die mes waarmee die verdagte die meisie gedreig het


’n Leerder van Hoërskool Strand is verlede Donderdag (24 November) met ’n mes gedreig en amper van haar selfoon beroof as dit nie vir haar gil was, wat ’n nabye lid van Strand-buurtwag bewus gemaak het van haar nood nie.

Philip Versfeld van Strand-buurtwag sê ’n tienermeisie van die Hoërskool Strand was omstreeks 07:30 op pad skool toe, toe sy in ’n veld naby die skool deur ’n man met ’n mes gedreig is.

“Sy het geskree en een van ons lede het haar gehoor en uitgestorm,” vertel Versfeld.

Op daardie oomblik het nog veiligheidsbeamptes daar stilgehou en die verdagte het probeer om die hasepad te kies en in die rigting van Lwandle gevlug voordat hy deur lede van die buurtwag, en Gordonsbaai- en AM-sekuriteit vasgekeer en aan die polisie oorhandig is.

Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van Strand-polisie, is geen klagte by die polisie aangemeld nie en is die verdagte vrygelaat.

Versfeld sê ’n misverstand het by die leerder se ouers ontstaan, wat gedink het die polisie gaan hulle besoek om die klagte aan te meld, wat toe nooit gebeur het nie.

Die ouers van die tienermeisie het toe ingestem om self polisiekantoor toe te gaan en die klagte daar aan te meld, maar die verdagte was reeds vrygelaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article