‘n Warm struweling oor die veiligheid en behandeling van bejaarde inwoners by Huis Soeterus in Strand het ontstaan.
Die Kaapse Onafhanklikheidsparty (Capexit) en ‘n plaaslike klaer eis dringende ingryping van owerhede weens bewerings van ernstige mishandeling, terwyl die bestuur van die tehuis die bewerings skerp as “ongegrond en skadelik” verwerp.
Die bewerings is aan die lig gebring deur Francois Olivier tesame met Capexit se proporsionele verteenwoordigende raadslid, Karl Bodin.
Olivier, wat sy moeder uit die tehuis verwyder het ná klagtes van aanranding, het ‘n polisiedossier van meer as 100 bladsye met verklarings en mediese verslae van verskeie inwoners en familielede saamgestel.
‘n Strafsaak is amptelik by die Strand-polisie ingevolge die Wet op Ouer Persone aangemeld.
Volgens die klaer beweer sommige inwoners onlangse sterfgevalle by die tehuis hou verband met die voortdurende mishandeling. Kommer heers oor ‘n personeellid wat na bewering ontslaan is nadat sy as fluitjieblaser teen die tehuis se bestuur opgetree het.
“Ek het my eie moeder uit Huis Soeterus verwyder weens wat na bewering met haar gedoen is,” het Olivier gesê.
Sedertdien het ek een verklaring ná die ander van inwoners en hul familie versamel, met dieselfde storie oor mishandeling. Al wat ek vra, is dat die owerhede dit behoorlik ondersoek.
“Die inwoners van Huis Soeterus is verskrik. Hulle is oud, hulle is broos en hulle het geen stem tensy ons namens hulle praat nie.”
Die saak het verder in kritiek teen die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSO) verskerp. Dít volg op ‘n vergadering by die DSO se Somerset-Wes-kantoor op Woensdag 15 Julie.
Olivier beweer amptenare het hom aggressief ondervra, sy tas vir opneemtoestelle deursoek, hom verbied om opnames te maak en aanvanklik geweier om sy moeder se mediese verslae terug te gee.
‘n Amptelike klagte oor dié optrede is dieselfde dag as die vergadering by die DSO se direkteur vir kwesbare groepe ingedien.
Bodin het die departement se hantering van die situasie skerp gekritiseer. “Die departement van maatskaplike ontwikkeling bestaan in hierdie konteks vir een doel – om die kwesbaarste lede van ons samelewing te beskerm. In plaas daarvan faal dit ons bejaardes om elke draai,” het Bodin gesê.
“Broos inwoners van Huis Soeterus sê hulle vrees vir hul lewe, ‘n fluitjieblaser het haar werk verloor en die DSO se reaksie was om die klaer te ondervra en te intimideer eerder as om die beskuldigdes te ondersoek. Die minister moet vandag optree – nie volgende week nie en nie nadat nog ‘n verslag afgewag word nie.”
Capexit het vier sleutelvereistes uiteengesit: die onmiddellike voorlopige skorsing van die betrokke Huis Soeterus-bestuur; die hertoewysing van die DSO-ondersoek aan ‘n onpartydige senior amptenaar; die toewysing van ‘n senior polisie-ondersoeker; en ingryping deur die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling.
Die bestuur van die sambreelliggaam wat oor die tehuis toesig hou, het die bewerings ferm teengestaan. Nicolette van der Walt, die voorsitter van die ACVV, het ernstige kommer uitgespreek oor die openbare stellings en volgehou dat die tehuis met algehele integriteit optree.
“Dit is met ernstige kommer dat ons die bewerings teen Huis Soeterus deur beide die Capexit-party en mnr. Francois Olivier kennis neem, des te meer omdat die bewerings van mishandeling, wat ons glo onwaar is, nie teenoor ons geopper is nie,” het Van der Walt gesê.
Sy het verduidelik terwyl Olivier voorheen kommer oor sy moeder se dieetvereistes en reëling van haar kamer voor haar vertrek in April vanjaar aangemeld het, formele bewerings van fisieke of verbale mishandeling nooit aan die ACVV-bestuur voorgelê is nie. Sy het daarop gewys dat die ACVV nie insae in die polisiedossier of verklarings gegun is nie en gewaarsku dat die openbare gevolge juis die betrokke mense benadeel.
Met vrae bestook
“Intussen word ons inwoners en personeel bestook met oproepe en boodskappe met navrae oor beweerde mishandeling, waarvan hulle geen kennis het nie,” het Van der Walt gesê. “Ongelukkig het dit ‘n uiters stresvolle uitwerking op ons inwoners – juis die mense wat Capexit en mnr. Olivier na bewering wil beskerm. Ons bly verbind om ons inwoners die beste sorg moontlik te bied en sal aanhou streef om hul latere jare so aangenaam en gemaklik as moontlik te maak.”
Om volledige deursigtigheid te verseker, het die bestuur van ACVV Strand en Huis Soeterus ‘n onafhanklike ondersoeker aangestel om die saak te ondersoek.
Daarbenewens het amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling reeds ‘n onaangekondigde terreinbesoek aan die tehuis gebring, met hul finale verslag tans in afwagting.
Toe hy vir kommentaar genader is, het die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Jaco Londt, gesê die departement neem kennis van die bewerings teen Huis Soeterus en beskou alle sodanige bewerings in ‘n ernstige lig.
“Tydens ‘n onaangekondigde besoek verlede week het DSO-personeel met inwoners, die inwonerskomitee asook die personeel en bestuur gepraat om inligting in te win en die feite te bepaal,” het Londt verklaar. Hy het daarop gewys dat die inwonerskomitee, wat hoofsaaklik uit afgetrede professionele mense bestaan, aangedui het dat hulle tevrede is met die dienste wat ontvang is en dat die bestuur vorige besware wat namens inwoners geopper is, opgelos het.
“Die raad ondersoek tans die bewerings. Dit moet in gedagte gehou word dat organisasies sonder winsoogmerk onafhanklike entiteite is en alle arbeidsake word deur die raad en sy bestuurspan hanteer. Die departement sal aanhou om met die bestuur en die inwonerskomitee te skakel.”





