Ek stap in die oop vertrek in waar ek vir Billy Browne moet ontmoet, die man wat altyd soos ’n Amerikaanse Indiaan aantrek, maar hy is nêrens te sien nie.
By een van die tafels sit ’n ouerige-man met ’n baadjie en ’n “I Love Jesus”- pet op sy kop. Ek stap ongemaklik nader. “Billy, is dit jy?” vra ek half onseker. Billy glimlag en skud sy kop.
Ek gaan sit, maar dit voel vreemd, gewoonlik is Billy te sien met sy interessante uitrustings aan en ’n sigarette in sy mond terwyl hy iewers op ’n straathoek in Strand staan en mense met sy kleurvolle persoonlikheid groet, maar vandag lyk hy soos ’n doodnormale persoon.
Dit is vandag, Woensdag 23 Augustus, Billy se laaste dag in die Strand.
“Jy weet, ek het altyd aangetrek soos ’n Indiaan, maar toe kry ek op 24 Julie ’n beroerte en toe verander als,” is Billy se eerste woorde aan my.
Hy kyk af en trek sy pet bietjie laer af oor sy voorkop. Billy het net voor die beroerte tuberkulose (TB) opgedoen. Dis amper asof hy skaam kry, maar hy lag en kry weer sy moed terug.
“Die rede waarom ek altyd aangetrek het soos ’n Amerikaanse Indiaan is oor die Amerikaners die vermetelheid het om ons te vertel hoe ons na ons mense moet kyk. Maar honderde jare gelede het hulle (die Amerikaners) die Indiane opgesluit in reserwes, waar hulle geen kontak kon hê met die buitewêreld nie. Dis hoekom ek aantrek soos ’n Indiaan.”
Billy se broer, Shane, skuifel nader, stel homself voor en probeer Billy se gesprek in ’n ander rigting stuur, maar dis asof Billy lostrek en sy storie vertel. Vandag bly Billy nie stil nie.
“Op 1 Oktober 1990 het ek my hart aan die Here gegee. Sewe dae later, op 8 Oktober, het die Here in my lewe gekom en toe verloor ek als in my lewe. Ek was nie bekommerd oor die materialistiese goeters nie, maar ek het my vrou en kinders verloor.”
Soos Job in die Bybel het Billy als wat belangrik vir hom was verloor, maar voor hy verder kan uitbrei spring Shane in en sê daar is ander redes waarom Billy se vrou en kinders nie meer in sy lewe is nie, hy wil egter nie verder praat oor die redes nie.
“My broer gaan na ’n ‘frail-care’ in Stikland. ’n Ernstige siekte is by hom gediagnoseer en hy is tans in ‘stagefour’. Hy gaan elke dag vat soos dit kom,” antwoord Shane verder.
Maar Billy praat weer die hartseer nuus weg, hy vertel dat hy ’n breek nodig het nadat hy amper 34 jaar op straat was. “Ek het baie vriende gemaak, maar baie mense was ook bang vir my,” val Billy homself in die rede.
“Eendrag maak mag,” gaan Billy weer voort en hy flits terug na sy dae in die weermag, amper asof hy weer probeer vergeet van die feit dat dit sy laaste dag in die Strand is.
“Ná matriek is ek opgeroep na die weermag. Hulle het my geleer hoe om paraat te wees en tot vandag toe is ek paraat.”
Billy glimlag en sê dis deur die goedheid van God dat hy so baie mense met goeie harte in die Strand kon ontmoet, dis hulle wie hy juis gaan mis.
“Ek hoop mense onthou my as Billy van Strand,” sluit hy af.



