Bongeka Bidi, ‘n ma van vier, is Maandagoggend 8 Januarie in die parkeergebied by die munisipale gebou in Strand doodgeskiet. Die slagoffer is kort nadat sy by die werk aangekom het deur ’n gewapende man geteiken wat deur die venster aan die bestuurderskant op haar losgebrand het. Twee verdagtes is die volgende oggend in verband met die skietmoord in hegtenis geneem.

Credit: Jamey Gordon

Die twee verdagtes wat aangekla is van die moord op Bongeka Bidi het weer verlede Donderdag (25 Januarie) in die Strand-landdroshof verskyn.

Die moordbeskuldigdes, 26 en 46, se hofverskyning volg ná hul inhegtenisneming binne 24 uur ná die skietvoorval, wat Maandagoggend 8 Januarie in die parkeergebied oorkant die munisipale gebou in Strand afgespeel het. Die raaiselagtige voorval het die lewe van Bidi, die weduwee van ’n taxi-eienaar, wat verlede jaar in ’n vermeende taxigeweld-verwante skietmoord gesterf het, geëis (“Weduwee afgemaai,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 10 Januarie).

Die 41-jarige ma van vier kinders, onder wie ’n tweeling, is dood nadat ’n koeëlreën op haar silwer Toyota Fortuner, wat by die munisipale gebou op die hoek van Faganstraat en Hoofweg geparkeer was, afgevuur is. Die skietaanval het kort ná 08:00 in die sentrale sakekern plaasgevind.

Die voorval, wat deur owerhede as nog ’n moontlike taxigeweld-verwante aanval bestempel word en ander wat dit net as misdaad beskou wat glo spruit uit ’n berugte twis oor die taxi-bedryf, het skokgolwe deur die breër gemeenskap gestuur en handel in die gebied ’n dag lank tot stilstand geruk.

Die oorledene, wat in die Kaapstad-metro se departement omgewingsgesondheid gewerk het, is glo kort nadat sy in die parkeerplek stilgehou het, deur ’n gewapende verdagte geteiken. Die verdagte het na bewering in die rigting van die busstop van die toneel weggeloop voordat hy in ’n wit Opel Astra met ’n CA-registrasienommer gevlug het.

Die slagoffer, wat glo haar man se taxi-onderneming in die Oos-Kaap geërf het en dit as eienaar verbonde aan die taxivereniging Codeta Grabouw voortgesit het, is op die toneel dood.

Die twee verdagtes is Dinsdag 9 Januarie in die vroeë oggendure danksy puik polisieondersoekwerk by ’n huis in Khayelitsha vasgetrek.

Die 46-jarige verdagte, wat glo die wegkomvoertuig bestuur het, het sy betrokkenheid by die skietvoorval in ondervraging bekend gemaak.

Die twee medepligtiges het Woensdag 10 Januarie die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn. Die saak is verlede Donderdag met hul verskyning vir ’n formele borgtog­aan­soek na Maandag (29 Januarie) uitgestel.

Volgens ’n bron is die twee se borgtogaansoek nie afgehandel nie en die saak is weer uitgestel – dié keer tot Dinsdag 6 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article