Biblioteke is bakens van hoop in gemeenskappe, maar dié fasiliteite gaan gebuk onder misdade soos diefstal en vandalisme.


Die Sir Lowry’s Pass- en Macassar-biblioteek, wat beide ’n veilige hawe en plek van leer vir jonk en oud in dié gemeenskappe bied, het onderskeidelik in November en Augustus onder die kriminele aktiwiteite gebuk gegaan. Die mate van beskadiging aan die twee fasiliteite verskil.

By die biblioteek in Sir Lowry’s Pass het vandale Vrydag 18 November die elektriese hek beskadig, twee vloedligte verpletter en die fasiliteit se mure met graffiti vernietig. Die hakiesdraadomheining van die Macassar-biblioteek is Dinsdag 16 Augustus gesteel.

Volgens die Stad staar sy biblioteke ’n aanslag van inbrake en vandalisme in die gesig, met die Tafelsig-biblioteek in Mitchells Plain wat in die vroeë ure van Sondag 18 Desember die jongste slagoffer geword het. Die inbrekers het glo toegang tot die fasiliteit deur die dak gekry en die dak en rekenaar kabels beskadig. Hulle het ook verwerkingseenhede, SmartCape-rekenaars, ’n monitor, mediaskerm, slim TV-stel en ’n USB-luidspreker gesteel.

“Die onverpoosde aanslag op ons biblioteke kannie voortgaan nie. Die kostes wat met die vandalisme en diefstal by biblioteke sedert Julie gepaard gaan, sal teen die einde van die jaar die R2-miljoen-merk oorskry en sluit in die R1 miljoen wat ons op sekuriteit sal moet spandeer,” aldus Patricia van der Roos, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

“Ons behoort nie soveel geld op die beveiliging van gemeenskapsbates te spandeer nie. Hierdie fasiliteite is daar tot die voordeel van ons inwoners, waar kinders kom swot, leer en verhoudings bou. Dis betreurenswaardig dat die kriminele dade van enkeles die meerderheid raak.

Baie van die misdade het ’n daadwerklike impak op biblioteekdienste, wat die tydelike sluiting van die fasiliteit noodsaak, wat lei tot die onbeskikbaarheid van materiaal.

“Vir baie van ons kliënte is die biblioteek die enigste stil plek om te studeer of ’n blaaskans van die lewe se stres te neem. Dis nie net fisiese items wat gesteel word nie, maar die diewe beroof ook ons studente van belangrike toegang tot hulpbronne en die gemeenskap van hul gemaksones,” het Van der Ross bygevoeg.

“Ons gaan geld spandeer om die gesteelde items te vervang en fasiliteite te beveilig. Daardie geld kon vir ander noodsaaklike dienste gebruik word. Daar is geen wenners wanneer biblioteke gevandaliseer of ingebreek word nie. Gemeenskappe moet eienaarskap van hierdie ruimtes neem en saam met die Stad werk om ’n einde aan hierdie misdade te bring.”

Die gemeenskap word versoek om enige misdadigheid en vandalisme by biblioteke aan te meld deur 0800 110 077 of die plaaslike polisiestasie te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article