’n Groep mense uit Strand, wat vroeër vanjaar bymekaargekom en besluit het om die stem dik te maak oor die Suiderstrand-biblioteek, se deursettingsvermoë en werk werp nou vrugte af. Foto: Rick Marais


Die Suiderstrand-biblioteek, wat verlede Februarie in ’n verwoestende brand in puin gelê is, gaan heeltemal herbou word om die gemeenskaps­baken tot sy eertydse glorie te hervestig.

Hierdie verwikkeling volg nadat gemeenskapslede, onder leiding van die gemeenskapsaktivis Cheslyn Benn, byna twee maande gelede hul stem dik gemaak en hul misnoeë oor die biblioteek, wat in die brand vernietig is, aan owerhede uitgespreek het (“Vrae, eise oor biblioteek,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Junie). Dié groep het Sondag 12 Junie voor die verkoolde vier dekade oue baken vir ’n bespreking bymekaargekom oor wat die toekoms inhou en wat van die raad verwag word om die biblioteek te herbou.

Die 42-jarige biblioteek in Laer Gordonsbaaiweg is Saterdag 27 Februarie verlede jaar vermoedelik weens brandstigting in vlamme verswelg (“Geskiedenis, nie net boeke, vernietig,” DistriksPos, 4 Maart 2021). Die voorval het in die vroeë oggendure plaasgevind en brandweerdienste is ná ’n noodoproep om 05:37 ontplooi.

Die verwoestende brand is die eerste voorval in onlangse jare waarin ’n stadsbiblioteek heeltemal vernietig is.

Strukturele deskundiges het die Stad Kaapstad aanbeveel om die verkoolde oorblyfsels van die gebou, wat eens die Suiderstrand-biblioteek gehuisves het, te sloop (“Slopingsvoorstel vir biblioteek,” 7 Oktober 2021).

Die gemeenskap ly meer as ’n jaar later steeds onder die verlies van die biblioteek waarheen talle jeugdiges oor die jare hul toevlug geneem het en wat selfs as naskoolsentrum gedien het.

Volgens die misnoegde gemeenskapslede het inwoners nie altyd geld om ’n taxi te haal of die tyd om saam met hul kinders na ander biblioteke in omliggende gebiede te stap nie – dit terwyl kinders se opvoeding en groei daaronder ly.

’n Navraag aan Patricia van der Ross, raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, oor planne vir die oorblyfsels van die biblioteek – wat soos ’n seer oog uitstaan – het ’n beter prentjie geskep, wat “opgewondenheid” in die gemeenskap gebring het.

Van der Ross het bevestig die munisipaliteit werk aan planne om die Suiderstrand-biblioteek te herbou.

“Ons is tans in die ontwerpfase,” het sy gesê. “Die voorgestelde nuwe gebou van die Suiderstrand-biblioteek gaan met ’n ander ontwerp spog as wat dit voor die brand gehad het.”

Benn het hul blydskap en opgewondenheid oor die nuwe verwikkelinge rakende die biblioteek se toekoms uitgespreek.

“Daar is weer nuwe hoop vir ons gemeenskap en ons jeug,” het hy meegedeel. “Ons sal die nuwe Suiderstrand-biblioteek tot die maksimum voordeel moet gebruik, want ons almal weet watter belangrike rol ’n biblioteek in ons gemeenskap vervul.”

Hy het ook gesê huishoudings in dié kwesbare gemeenskap sal ook weer toegang tot die internet geniet.

“Ek wil die belangrike rolspelers bedank vir die druk wat hulle ook toegepas het aan die mense wat in beheer is van besluite soos hierdie. Eenheid is werklik krag,” het Benn bygevoeg.

Dis egter nie alles maanskyn en rose nie, want volgens Van der Ross is die geld wat die versekering ná die brand uitbetaal het, nie naastenby genoeg om die biblioteek te herbou nie.

“Ons is tans in gesprek met al ons provinsiale eweknieë vir bystand en ondersteuning,” het sy bygevoeg.

Van der Ross kan in hierdie stadium geen verdere kommentaar rakende die proses lewer nie, maar belowe om die gemeenskap van enige verdere verwikkelinge op hoogte te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article