Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag en dronkbestuur nadat ’n voetganger in ’n ongeluk doodgery is en die bestuurder kort ná die voorval glo deur ontstoke gemeenskapslede wat op die toneel afgekom het, aangeval is.
Luidens ’n polisieverslag het die voorval Saterdag (17 September) in die vroeë oggendure gebeur en ’n jongeling van die Weltevreden-gemeenskap geëis. Die oorledene is bekend as die 23-jarige Brandon Phillips.
Hy het op die toneel aan veelvuldige beserings beswyk.
Omstanders het uit woede teenoor die 48-jarige bestuurder uitgevaar en sy bakkie op die ongelukstoneel aan die brand gesteek.
Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder vir die Strand-polisie, het die voorval omstreeks 02:50 op die hoek van Gordonsbaai-weg en Onverwachtstraat afgespeel.
Beukes sê die bakkie het van Gordonsbaai-weg in die rigting van Strand beweeg toe die voertuig Phillips, wat glo die pad by die kruising wou oorsteek, getref het.
“Die voetganger het glo voor die voertuig ingeloop en is toe getref,” lui die verslag.
“Woedende inwoners van ’n nabygeleë nedersetting het op die toneel aangekom, die bestuurder aangerand en die voertuig aan die brand gesteek. Die voertuig het heeltemal uitgebrand.”
Lillian Albertyn, ’n projekkoördineerder by die Strand-Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was van die eerste mense op die toneel en was geskok deur wat sy gesien het.
“Ek wil nooit weer so iets in my lewe beleef nie. Die skare was heeltemal buite beheer nadat iemand omgery is.
“Hulle het hulle woede op die bestuurder van die voertuig uitgehaal. Hy was erg bebloed voordat hy na die hospitaal gehaas is,” vertel sy.
Volgens haar het die skare daarna die bestuurder se bakkie gestroop en goedere, wat verf en ’n lugreëlingstelsel agter op die bakkie insluit, gevat.
“Ek gee soms ook ondersteuning aan slagoffers, en ek was nog besig om met die voetganger wat doodgery is, se ma te gesels toe skote skielik begin klap en dinge heeltemal handuit geruk het.
“Klippe is gegooi en ek het eenkant toe gestaan om veilig te wees en die polisie toe te laat om hul werk te doen,” voeg Albertyn by.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, sê brandweerspanne het om 02:40 op die voorval gereageer en die brand is om 03:03 geblus.
Sorita Phillips sê die verlies van haar jongste seun het nog nie ingesink nie. “Ek het nog nie tot verhaal gekom nie,” sê sy.
Volgens die ouer is Phillips van die huis af weg om sigarette by die nageleë vulstasie se winkel te gaan koop. Iemand het haar geroep om ondersoek te gaan instel nadat iemand gesê het hy was die slagoffer van ’n ongeluk.
“Toe ek daar kom, het my seun leweloos in die pad gelê. Ek het leeg van binne gevoel, soos ’n zombie.”
Sorita het haar geliefde seun beskryf as ’n rustige siel wat gedurende die week net tussen sy werkplek en die huis beweeg het en naweke saam met vriende deurgebring het.
“Hy het graag gesing en sy tweejarige dogter met sy talent vermaak. Hy was baie grapperig en die versinnebeelding van medemenslik,” vertel sy.
Die bestuurder het Maandag (19 September) in die Strand-landdroshof verskyn.


