‘n Bekende gemeenskapsleier van Strand verskyn oormôre (Donderdag 14 Augustus) weer in die Strand-landdroshof op aanklagte van seksuele misdrywe met ‘n minderjarige.
Die 56-jarige beskuldigde, ‘n lid van die Strand-gemeenskapspolisëringsforum (GPF), is die afgelope Woensdag (6 Augustus) deur die Gordonsbaai-polisie op verskeie aanklagte in hegtenis geneem.
Fransina Lukas, die voorsitter van die nasionale en provinsiale GPF-komitee, het bevestig dat die beskuldigde ná sy inhegtenisneming uit sy leiersrolle in die plaaslike GPF en subdistrik-vlak geskors is.
“Dit is ernstige bewerings wat ons nie kan aanvaar nie. Seksuele aanranding is iets wat nie in die GPF-strukture geduld word nie,”
sê die voorsitter.
Sy het bygevoeg dat die gemeenskaps- veiligheidsorganisasie die wet sal toelaat om sy loop te neem en dat sy die beweerde slagoffer sterkte toegewens het met haar genesingsproses.
Eric Ntabazalila, ‘n provinsiale woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig dat die beskuldigde op 6 Augustus vlugtig in die Strand-landdroshof verskyn het.
Hy is aangekla van ontbloting van sy geslagsorgane aan ‘n minderjarige, twee aanklagte van gedwonge self-seksuele aanranding en twee aanklagte van crimen injuria en seksuele aanranding.
Ntabazalila het bygevoeg dat die beweerde voorvalle op Donderdag 3 Julie plaasgevind het, terwyl die seksuele aanranding glo op Saterdag 26 Julie plaasgevind het.
Die saak is tot Donderdag vir ‘n borgtogaansoek uitgestel, wat die staat sal teenstaan.
Die beskuldigde sal tot sy verskyning in aanhouding bly.
Die aanklagte is gegrond op ‘n ondersoek deur die Khayelitsha-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ná die beweerde voorvalle by die beskuldigde se werksplek in Gordonsbaai verlede maand.
In ‘n afsonderlike saak word die beskuldigde deur bewerings van regsverydeling in die gesig gestaar nadat hy op Vrydag 1 Augustus om 07:58 die beweerde slagoffer se huis besoek het.
Volgens die polisieverslag het hy probeer om met die slagoffer oor die saak te praat, maar sy het bedreig gevoel.
Die bewerings het skokgolwe deur die Strand-gemeenskap gestuur.
“Ons het dit nie sien kom nie; dit het ons verras,” sê Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging in Strand en wat op die regte van vroue en kinders asook die beskerming van slagoffers van seksuele en huishoudelike geweld fokus.
Motasi het verduidelik dat die gemeenskap bewus geword het van die bewerings, en toe die beskuldigde in hegtenis geneem is, het die organisasaie toegetree om die slagoffer te ondersteun.
“Dit sou verkeerd wees as ons die bewering anders hanteer as gevolg van wie beskuldig word,”
sê sy.
Lede van die Vroue in Aksie-beweging sal Donderdag by die Strand-landdroshof wees om weer eens ondersteuning aan die slagoffer te bied.




