Badisa Strand, ’n maatskaplike welsynorganisasie in Rusthof wat professionele maatskaplike welsyn- en ontwikkelingsdienste verskaf, vra die gemeenskap om hul hart en hande oop te maak om die organisasie te ondersteun met twee projekte waaraan hulle tans werk.
Leigh-Mae Martin, ’n projek-koördineerder by Badisa Strand, sê die een projek is vir die Voetspoortjies- vroeëkinderontwikkeling-groep, wat uit 30 minderbevoorregte kinders van die Strand-omgewing bestaan.
“Die kinders ontvang tans voorskoolse stimulering in ons Voetspoortjies-projek en ons wil vir elkeen ’n stoel en tafel verskaf om op te werk. Dis waarom ons na die gemeenskap uitreik en mense vra om 30 stoele en ses tafels te skenk,” sê Martin.
Sy rig ook ’n versoek aan inwoners om produkte te skenk vir lekkergoedpakkies, wat Woensdag 21 Desember by ’n jaareind-partytjie aan die kinders uitgedeel gaan word.
“Ons het ook ’n groot tekort aan skryfbehoeftes vir die 40 nasorgkinders en die sowat 60 pleegkinders by Badisa Strand,” verduidelik sy.
“Ons wil die gemeenskap ook vra om skryfbehoeftes aan Badisa te skenk. Die projek is baie belangrik aangesien die kinders se ouers finansieel sukkel, en dis moeilik vir hulle om die volledige lys skryfgoed wat die skole vra die ouers moet voorsien, te bekostig.
“Ons wil genoeg skryfbehoeftes bymekaarmaak dat ons dit aan die begin van 2023 by die onderskeie skole kan gaan aflaai.”
Sy sê ook indien mense wat skenkings het ’n probleem het om die skryfbehoeftes by Badisa Strand se kantoor in Libertystraat in Rusthof af te laai, is die organisasie bereid om self die skryfbehoeftes by die skenkers te kom oplaai.
“Lesers kan ook PNA-geskenkbewyse skenk. Dit is belangrik om te onthou die produkte wat geskenk word, hoef nie noodwendig nuut te wees nie, maar moet nog bruikbaar en in ’n werkende toestand wees.”V Mense wat belangstel om tot Badisa Strand se projekte by te dra, kan Leigh-Mae Martin by 076 413 1379 bel.


