Dit was veronderstel om ’n kragmeting tussen die Boland-klubkampioene, Saldanha, en die Westelike Provinsie se Super B- Ligakampioene, Berge, te wees, maar dit was absolute eenrigtingverkeer van die afskop tot die eindfluitjie.

Die rustydtelling was 33-0 en die eindtelling 73-5 ná elf drieë en nege doelskoppe vir die tuisspan. Helderberg het – soos verlede Saterdag (25 Februarie) teen Valsbaai – weer 28 spelers speelkans gegee, met goeie effek. Slegs drie spelers het van die begin tot die einde op die veld gebly, te wete die heelagter Jeandre Lukas, die regtervleuel Ovan Engelbrecht en die jong slot, Nico Steenkamp.

In die eerste helfte het sy instaankaptein, Michael Visser (skrumskakel) in die afwesigheid van die kaptein en agsteman Conway Pretorius 18 punte met twee skitterdrieë en vier doelskoppe bygedra.

Nog drie drieë is in hierdie helfte deur die loskopvoorryman Tristan Leitch (2) en die slot Shane Kennedy gedruk.

Die veertig punte in die tweede helfte is opgestapel danksy ses drieë en vyf doelskoppe. Hiervan het die heelagter Lukas met sy indrukwekkende vaartversnelling twee keer gaan druk. Die senter Quiwin Bauman, die flanke Tehan du Plessis en Jady Labuschagne en die losskakel Darren Hendricks het ook die doellyn oorgesteek. Hendricks het vier keer die ekstras bygelas en Marshall Douman een keer. Vir Saldanha was hul troosdrie hul enigste punte (eindtelling: 73-5).

Die skeidsregter, Cameron Africa, het die wedstryd skitterend hanteer.

Helderberg het die tweedespanwedstryd 29-0 gewen, drieë is gedruk deur Jurgen Dorfling (stut), Clavern van der Post (agtsteman), Luke Hertz (senter), Winston Willemse (heelagter) en Aviwe Mhlangu (flank). Willemse en Jody Halford (losskakel) het elk een doelskop bygevoeg.

Saldanha kon nie ’n ondertwintigspan bymekaar kry nie en het boonop op die dag die beplande derdespanwedstryd afgelas. Berge se derde en vierde spanne het toe teen mekaar gespeel en die derdes het 29-26 gewen – ’n goeie getuigskrif vir klubgees.

Saterdag (11 Maart) reis Helderberg na Seepunt vir sy jaarlikse kragmeting teen die Hamiltons.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article