Helderberg-rugbyklub het Saterdag (23 Julie) op sy tuisveld op die wenpad gebly deur ’n taai Collegians-span met 30-3 te klop, ná ’n 13-3 rustyd-voorsprong.
Die besoekers se spelstyl het Berge se gewone hardlooprugby baie beïnvloed en Collegians verdien krediet daarvoor.
Eers in die 15de minuut het die telbord geroer met ’n strafdoel deur sy skrumskakel Marshall Douman (3-0).
In die 17de minuut maak Douman weer so met nog ’n suksesvolle strafdoel (6-0).
In die 20ste minuut sit die linkervleuel Nigel Patrick af op ’n opwindende lang lopie. Hy vind aansluiting by buitesenter Quiwen Bauman, wat vir regtervleuel Jodi Koul voer om agter die pale te druk. Douman se doelskop slaag maklik (13-0).
Vyf minute later teken Collegians hul enigste punte met ’n strafdoel aan en die rustydtelling staan op 13-3 in die tuisspan se guns.
Net ná die omdraai sit losskakel Errol Jaggers ’n beweging aan die gang en binnesenter Bokkie Carstens se kronkellopie van Collegians se 22 m-lyn eindig agter die pale. Douman se doelskop maak die voorsprong 20-3.
In die 55ste minuut breek Jaggers die lyn en Bauman dra die besit verder, voordat hy sy heelagter Danvino Swartland in die hoek oorstuur (25-3). In die 61ste minuut tel flankvoorspeler Schalk Burger ’n losbal op en daar is geen keer aan hom hoek toe nie (30-3).
Die res van die wedstryd was die besoekers desperaat op die aanval en die plaasvervanger-senter Lynn-Jay Hendricks slaag met ’n groot driereddende laagvat. Die eindtelling was 30-3.
Uitblinkers voorlangs was die stutte Jonno Schenck en Jurgen Dorfling, tesame met die haker Jacques van Zyl en die bestendige slot Shane Kennedy.
Agterlynuitblinkers was die losskakel Jaggers, die senters Carstens en Bauman en die vleuels Patrick en Koul.
Ander uitslae van die naweek: Helderberg II 19-22 Collegians II; Helderberg o.20A 48-0 Collegians o.20A; en Helderberg III 33-0 Villagers.
In die o.20-wedstryd het die senter Dane Bezuidenhout ’n driekuns behaal wat sy drieëtal in 10 wedstryde op ’n skitterende 14 bring.
VHierdie Saterdag speel Helderberg teen All Saints op Helderzicht, terwyl die derdes Vrydagaand 20:00 teen Valsbaai IV op Charles Morkel speel.



