Die eerste span van die Helderberg-rugbyklub het Saterdag (2 Julie) in die Charles Morkel-stadion sy plek boaan die Superliga B-punteleer verder versterk deur sy rustydtelling van 26-6 teen sy eweknie van Franschhoek te verdubbel om eindelik met 52-6 te seëvier.
In die twee klubs se laaste ligakragmeting op 18 Mei 2019 was Franschhoek op sy tuisveld die wenners met 25-12, en in ’n vriendskaplike wedstryd in Franschhoek op 5 Junie verlede jaar het Berge met 52-3 gewen.
Hierdie keer het Franschhoek die telbord in die tweede minuut met ’n strafdoel geopen (0-3). In die sewende minuut het die Helderberg-losskakel, Errol Jaggers, naby die hoekvlag gedruk (5-3).
In die 12de minuut het die tuisspan se kaptein en skrumskakel, Michael Visser, ook in die hoek oorgegaan vir ’n drie wat hy self verdoel het (12-3). In die 15de minuut het die besoekers met hul tweede strafdoel geslaag (12-6).
In die volgende minuut het die Berge-heelagter Donvino Swartland die bal gekry en aan sy buitesenter, Quiwin Bauman, gegee, wat ’n paar verdedigers geklop en die regtervleuel, Jodi Koul, weggestuur het vir ’n skitterende drie. Visser het dié drie verdoel (19-6).
In die 29ste minuut het die slot Marcus Brand ’n verdedigende skop raakgevat en die baal vir Koul op die halflyn aangegee. Dié blitsige vleuel het onaangeraak dwarsdeur genael om agter die doellyn te kuier. Visser se doelskop het die rustydtelling 26-6 gemaak.
Ná die omdraai het die sterk binnesenter, Lyn-Jay Hendricks, twee keer direk ná mekaar deur die Franschhoek-verdediging gedring en gedruk. Visser het die eerste verdoel en sy plaasvervangerskrumskakel Marshall Douman die tweede (40-6).
In die 68ste minuut was dit die beurt van Quinn Visser, plaasvervangersenter, om agter die doellyn te gaan kuier. Douman het verdoel (47-6).
Agt minute later het die plaasvervangerhaker Hafeez Adams op ’n goeie lopie afgesit. Douman het besit op die 22 m-lyn gekry, afgerond en die eindtelling 52-6 gemaak.
Die hardwerkende flank Schalk Burger is as die speler van die wedstryd aangewys, maar goeie vertonings voorlangs is ook deur die haker Jacques van Zyl, slot Shane Kennedy en agtsteman Estehan Visagie gelewer. Agterlangs was die puntemakers Visser, Koul, Bauman en Hendricks in goeie vorm.
In die dag se ander wedstryde was Berge ook aan die wenkant teen die Franschhoek-rugbyklub. Die tuisspan se tweedes het 15-12 gewen, terwyl sy o.20A-span 33-0 koning gekraai het.
V Saterdag (9 Julie) ontvang Berge die Busy Bees teen wie hy in April 2019 in dié twee spanne se enigste vorige kragmeting 47-29 gewen het.

Schalk Burger klou aan die bal terwyl ’n Franschhoek-speler hom grond toe bring. Die Berge-flank is as speler van die wedstryd in sy span se 52-6-oorwinning aangewys.





