Helderberg Rugbyklub het Saterdag (28 September) in die Charles Morkel-stadion in die Gold Cup ’n betreklik maklike sege oor Kimberley behaal met ses drieë en die eindtelling van 38-0.
Hiermee dring die klub deur na die laaste agt in die kompetisie. Hierdie sukses is bereik sonder verskeie eerstekeusespelers asook verlede week se driekunsheld Ricardo Links (beseer) en Erhard Lambrecht en Quinn Visser.
Die regtervleuel, Jodi Koul, het in die 11de minuut na binne gespeel nadat sy senter Quiwen Bauman vir die openingsdrie, verdoel deur sy kaptein en skrumskakel, Michael Visser, gesorg het. Die besoekers se verdediging was taai, maar hulle was planloos.
In die 32ste minuut en ná goeie spel van haker Adriaan Groenewald en flank Blaine Skelton is linkervleuel Jayden Daniels in besit gestel om in die hoek af te rond (12-0).
In die laaste oomblikke van die eerste helfte het Koul op Kimberley se 22-lyn onderskep en onder die pale geduik. Visser het maklik verdoel (19-0).
In die 50ste minuut en ná algehele oorheersing van die tuisspan se agttal, het Visser in Castle Corner oorgeduik (24-0).
Sewe minute later het die agsteman, Jady Labuschagne, ’n losbal gewen en van die 10-meter-lyn af deurgehardloop en onder die pale gedruk vir nog ’n eenvoudige doelskop vir Visser (31-0).
Visser, die argitek van die wedstryd, het in die 68ste minuut in gietende reën deurgebreek vir nog ’n drie, wat hy self verdoel het vir ’n 18-punte-bydrae tot die 38-0-eindtelling.
- Saterdag speel Berge weer tuis, danksy a groter punteverskil as hul teenstander, Centurion.


