Berge het die Universiteit van Kaapstad (UK) die eerste keer in jare sedert 2005 se 54-12-sege in Saterdag 29 Julie se 21-15-Superliga A-wedstryd by Charles Morkel-stadion in Strand oorwin.
Dit was ’n heerlike dag vir die tuisspan en die tuisskare.
Helderberg het deurgaans voorgeloop en hoewel Ikeys later byna ingehaal het, verdien die tuisspan se rotsvaste verdediging baie krediet hiervoor.
Hierdie oorwinning hou Helderberg in die eerste plek op die Superliga A-punteleer, met Berge se twee loslootjies en drie wegwedstryde wat oorbly.
Maties het nog nege en Ikeys nog ses wedstryde uitstaande.
In die tweede minuut ná die afskop het die regtervleuel Jodi Koul aan die loop gegaan en by sy heelagter, Jeandre Lukas, aangesluit, wat teruggespeel het na Koul, wat in die hoekie oorgeduik het. Die doelskop was nie suksesvol nie, maar die skrumskakel en kaptein van die dag, Michael Visser, het in die vyfde minuut ’n strafdoel oorgeklits (8-0). Visser het in die agste minuut weer so gemaak (11-0). waarna Ikeys in die 11de minuut sy rekening met ’n drie deur sy haker (11-5) geopen het.
Berge se buitesenter, Quiwen Bauman, het ’n goeie lynbreek in die 28ste minuut gemaak en sy losskakel, Darren Hendricks, gevoer, wat op sy beurt Koul weer in besit gestel het om sy tweede drie in die hoekie af te rond (16-5).
Die rustydtelling was 16-5.
Visser het in die 47ste minuut ’n verdedigende skop binne sy 22 raakgevang en sy flank Schalk Burger gevoer, wat sy linkervleuel, Dane Bezuidenhout, in besit gestel het. Die haastige Bezuidenhout het voet in die hoek gesit en sowat 60 m vir die beste drie van die wedstryd genael (21-5).
Ikeys het sy tweede drie, wat verdoel is (21-12), in die 62ste minuut gedruk.
Berge se losvoorspelers, Matthew Cordy (nommer 8) en flanke Jady Labuschagne en Burger het tesame met die volle agterlyn naarstiglik verdedig en die studente in toom gehou. In die 77ste minuut het Ikeys ’n strafdoel by sy telling gevoeg (21-15), met die eindtelling 21-15.
Weens die erge nat toestande is die derdespan- en o.20-wedstryde vir eers uitgestel. . St. George’s het ook in sy Superliga A-wedstryd teen UWK geseëvier en 22-17 in Gustrouw gewen. Dit was ’n indrukwekkende oorwinning en verseker Superliga A-rugby vir St. George’s volgende seisoen.
St. George’s is kort na die begin met ’n strafdrie beloon, en net ’n paar minute later het Alvino Anthony gedruk, wat deur Nazeem Wood verdoel is. UWK het teruggeveg en twee drieë voor rustyd gedruk – rustydtelling 12–10.
’n Magdom veranderinge is vir die tweede helfte aan beide kante aangebring, en in die 62ste minuut het Wood ’n strafskop oorgeskop om die gasheer die voorsprong te gee. UWK het egter nie maklik ondergegaan nie en probeer om terug in die wedstryd te kom, maar Fazeel Robertson het in die 79ste minuut geslaag en Wood het geen fout gemaak om drie punte by te voeg nie. ’n Laaste- asem-poging deur UWK het hom in die slotminute ’n drie besorg, maar dit was te min aangesien die Lulu Boys steeds die oorwinning behaal het.



