All Saints het sy taak goed verrig en baie goeie verdedigingswerk teen sy teenstanders gedoen. Bo duik All Saints Estehan Visagie van Helderberg plat.Foto’s: Peter Bee


Die Helderberg-rugbyklub het Saterdag (30 Julie) die All Saints-rugbyklub met vyf drieë teen een in hul Superliga B-derby geklop.

Die onoorwonne Berge was op die dag te sterk vir die uiters gewillige tuisspan, wat by tye sterk op die verdediging was.

Berge het die wedstryd sonder vier van sy beste spelers gepak. Al twee spanne was vir die grootste deel van die eerste helfte ondeurdringbaar vanweë hegte verdediging.

Die veteraan-senter Cheslin Jack het All Saints se rekening in die 22ste minuut met ’n 30-meter strafdoel geopen (3-0). Die puik flank van Helderberg, Schalk Burger, het in die 35ste minuut – ná vele aanvalsaanslae op Saints se lyn – oor die lyn gebeur. Die skrumskakel, Marshall Douman, het verdoel (3-7).

Berge se losskakel, Errol Jaggers, het in die doodsnikke van die eerste helfte op ’n lopie afgesit, aan die senter Bauman uitgegee en Burger was by om die beweging vir sy tweede drie in die hoekie af te rond (3-12).

Jaggers het kort ná rustyd, in die 42ste minuut, naelskraaps met ’n skepdoel gemis.

Berge het in die 45ste minuut ’n losgemaal gewen en Douman het sy plaasvervanger-haker, Hafeez Adams, vir ’n skitterende drie in die hoekie gevoer (3-17).

Verdedigings- en oordeelsfoute het die spel vir die middelste deel van die tweede helfte oorheers waarna die plaasvervanger-skrumskakel, Bokkie Carstens, sy plaasvervanger-losskakel JJ Stover in die 72ste minuut gevoer het, wat in die hoekie geduik het (3-22).

Vier minute later het die heelagter, Danvino Swartland, die bal na die plaasvervanger-senter, Lynn-Jay Hendricks, aangegee, wat agter die doellyn gaan draai het. Stover het met die doelskop geslaag (3-29).

Met speeltyd byna verstreke en Saints op die aanval, het die regtervleuel, Wayne Raubenheimer, gaan druk en die senter Keaton Gordon het van die kantlyn af verdoel vir die eindtelling 10-29 in Berge se guns.

Vir die tuisspan was sy beste speler sy agtsteman, Dezam Jackson, met Gavin Stopforth goed in die lynstane. Agterlangs was die vleuel Raubenheimer uitstaande met die senter Gordon ook oortuigend.

Vir Helderberg het sy lostrio, die kaptein en agtsteman, Estehan Visagie en sy flanke, Burger en Dua Groenewald, indrukwekkend vertoon. Die stut Jurgen Dorfling was egter die speler van die wedstryd – ’n kortkop voor die slot Shane Kennedy.

Agterlangs was niemand beter as Jaggers, Bauman en Carstens nie.

  • Ander uitslae: Helderberg II 15-8 All Saints II; Helderberg o.20 19-7 All Saints o.20; en Helderberg III 10-20 False Bay IV.
  • Hierdie Saterdag (6 Augustus) reis Helderberg na Young Peoples in Paarl vir sy voorlaaste ligaverpligting.

Schalk Burger druk a drie vir Helderberg.

Wayde Sinclair kry sy agterspelers aan die gang.Foto:

Quiwen Bauman op volle vaart vir Helderberg.

Marthinus Carstens gee die bal vir sy spanmaats aan.

Schalk Burger druk ’n prag drie vir Helderberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article