Ná aanvanklike sterk weerstand van die span van George-rugbyklub en die span van Helderberg-rugbyklub se rustyd-voorsprong van slegs 7-14, het die Strandse besoekers die krane oopgedraai om Saterdag 5 Maart in George eindelik met 14-38 te wen.
Die haker, Jacques van Zyl, en die flank Naym Jansen, het in die eerste helfte gaan druk, terwyl hul skrumskakel, Michael Visser, albei drieë verdoel het. Tweedehelfte-drieë deur Visser, die senter Quiwen Bauman en die agtsteman, Dua Groenewald, het die voorsprong gerek. Visser, met een doelskop, Jody Halford, met twee doelskoppe en Marshall Douman, met ’n skepskop, het die ander punte gekry.
Uitblinkers in die wedstryd was die slot en speler van die wedstryd, Jacques Botha, Van Zyl, die flank Schalk Burger en die stut Theodore Ntikinca. Agterlangs het Bauman en sy heelagter, Donvino Swartland, voortreflik vertoon.
In Wellington is die wedstryd op die B-veld van die Wellington-rugbyklub gespeel, wat glad nie geskik was vir ’n goeie rugbystryd nie. Die veld het maande laas water gehad, was ongelyk en met tye eerder ’n stofstorm – ’n regte enkelbreker. Dit gaan die verstand te bowe hoekom die Boland-rugbyunie die Wellington-rugbyklub so stief behandel.
Helderberg het ten spyte van die toestande 10-20 gewen ná ’n 3-0- agterstand met die omdraaislag.
Die slot Shane Kennedy het gaan druk en die heelagter, Michael Etson, het verdoel. Verder is ’n strafdrie vir Berge toegeken en sy veteraansenter Carl Block het met twee lang strafdoele geslaag.
Voorlangs is goeie spel gesien van Kennedy, die haker, Jason Muller, die stut Jonno Schenck en die twee flanke, Dunan Booysen en Dries Egelbrecht.
Agter het Block, die skrumskakel Ruan Cilliers en Etson goeie indruk gemaak.
Hierdie Saterdag (12 Maart) reis Helderberg na Constantia om met die Superliga A-klub Valsbaai kragte te meet. Verlede jaar het Valsbaai Berge erg onderskat en in ’n naelbytstryd met slegs 7-10 in die Charles Morkel-stadion in Strand gewen.
Ook in die tweedespanwedstryd het Valsbaai met slegs 0-7 gewen. Berge is egter bewus daarvan en is hopelik gereed vir ’n groot aanslag.

