Ná 14 Superliga B-wedstryde is die Helderberg-rugbyklub steeds onoorwonne ná Saterdag (13 Augustus) se 73-15-sege in die Charles Morkel-stadion teen Langa-rugbyklub.

Die wedstryd het 11 drieë vir die tuisspan opgelewer en twee vir die besoekers, met die rustydtelling reeds 31-3 in Berge se guns.

Die regtervleuel, Jodi Koul, het die bal van die afskop af na Langa se gebied gedra, waar sy skrumskakel, Michael Visser, onder die pale afgerond het. Hy het ook met die doelskop geslaag (7-0).

Die linkervleuel, Ovain Engelbrecht, het in die sesde minuut op Langa se 22 besit gekry en sy buitesenter, Lynn-Jay Hendricks, gevoer, wat in die hoekie gedruk het (12-0).

Langa het sy rekening kort daarna met ’n strafdoel (12-3) geopen.

In die 18de minuut het ’n losgemaal ná ’n lynstaan gevolg, en Berge se haker, Tehan du Plessis, het ’n hoekdrie gedruk (17-3).

Die losskakel, Errol Jaggers, het in die 31ste minuut sterk gebreek en sy binnesenter, Quinn Visser, het onder die pale afgerond. Michael Visser het sy broer se drie verdoel (24-3).

In die doodsnikke van die eerste helfte het die vaskopstut, Jonno Schenck, oor die lyn gebeur. Visser se doelskop het die rustydtelling 31-3 gemaak.

Vyf minute ná rustyd het Jaggers ’n aanvallende skop weggestuur en die slot Marcus Brand het sy drie gedruk en Visser het verdoel (38-3).

Jaggers het die bal later aan Hendricks gegee, wat sy heelagter, Danvino Swartland, in die hoekie laat afrond het. Visser het weer verdoel (45-3).

Langa het ’n tweede asem gekry en ’n puik verdoelde drie (45-10) aangeteken, en net daarna het die kaptein en agtsteman Estehan Visagie op ’n indrukwekkende lopie van Langa se 22 af afgestuur en gedruk, en Visser het verdoel (52-10).

Langa het daarna sy tweede drie gedruk (52-15), waarna Engelbrecht wyd om die verdediging gehardloop en agter die pale gedruk het. Die plaasvervangerskrumskakel Marshall Douman het verdoel (59-15).

Die plaasvervangersenter Quiwen Baumann het drie minute voor die einde deurgebreek, Hafeez Adams (plaasvervangerhaker) gevind, en Engelbrecht vir sy tweede drie weggestuur. Douman verdoel (66-15).

In die 80ste minuut het die plaasvervangerlosskakel JJ Stover gebreek en die senter Bauman onder die pale afgerond vir Douman om weer eens te verdoel (eindtelling 73-15).

Die uitblinkers in die agterlyn was die skakelpaar Visser en Jaggers, die senters Hendricks en Visser en die vleuel Engelbrecht. Voorlangs het die lostrio – Visagie, Groenewald en Jansen – die oog gevang en die stutte Schenk en Ntinkinca het ook beïndruk.

Volgende week speel die klub se derdes teen Macassar in hul laaste ligastryd.

Intussen wag die klubs op die Westelike Provinsie-rugbyunie se bepalings vir die uitspeelwedstryde, terwyl Helderberg se eerste span reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer het.

  • V Ander uitslae van die naweek:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article