Helderberg het verlede Saterdag (23 April) met ’n puik spanpoging korte mette van ’n verswakte besoekende Bellville-span gemaak.

Ses drieë later, vyf deur sy giftige agterlyn, wen die tuisspan 40-10 in die Charles Morkel-stadion.

Die voorsprong met die omdraaislag was reeds 21-10 en alhoewel Berge sy volle toegelate plaasvervangersbank gebruik het, het die span deurgaans momentum behou.

Voorlangs was Helderberg absoluut in beheer, maar die skitterende agterspel was werklik indrukwekkend. Die goeie spel is veral aangevuur deur die spel van sy skakelpaar Michael Visser en Errol Jaggers, wie se besluitneming en verspreiding van die bal feitlik foutloos op die dag was.

Uitstaande in die agterlyn was sy buitesenter Quiwen Bauman, wat saam met sy sentermaat Bokkie Carstens talle geleenthede vir hul agterste driehoek geskep het. So het dit gebeur:

In die vierde minuut stuur Berge se agtsteman en kaptein Conway Pretorius sy linkervleuel Nigel Patrick weg vir ’n drie in die hoek. Visser verdoel van die kantlyn af (7-0).

In die 11de minuut, steeds teen die wind, stuur Pretorius die besit in die hande van sy heelagter Donvino Swartland, wat maklik afrond. Visser slaag weer met die ekstra punte (14-0).

In die 13de minuut maak Bauman ’n skerp lynbreuk, nael sowat 30 m, voor hy na binne by sy regtervleuel Jody Koul aansluit, wat onder die pale druk. Visser verdoel weer (21-0).

In die 24ste minuut breek Bellville die ys en momentum met sy agtsteman Anthony Daniels se drie naby die hoekvlag (21-5).

Net voor rustyd, ná goeie Bellville-dryfspel, druk sy haker Oswald Carelse in die hoek. Rustydtelling: 21-10.

In die 49ste minuut onderskep Pretorius en gaan druk onder die pale. Visser verdoel (28-10).

In die 62ste minuut wen Berge ’n losskrum en Visser stuur sy losskakel Jaggers deur. Visser verdoel nogmaals (35-10).

In die 78ste minuut maak Bauman nog ’n lynbreuk, nael 40 m voor hy Swartland wegstuur om ook ná ’n lang lopie in die hoek oor te duik (40-10).

Lasstens moet die skitterende aansluit-vermoë en verdediging van Berge se losvoorspelers, Pretorius en sy flanke Estehan Visagie en Dua Groenewald beklemtoon word.Ander uitslae: . Helderberg II 14-15 Bellville II. Helderberg o.20A 20-8 Bellville o.20A

Berge hervat sy ligabepalings eers na twee afnaweke Saterdag 14 Mei op die Eikendal-sportterrein teen Hands & Heart.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article