Die Helderberg-rugbyklub het sy jaarlikse wedstryd teen die WP se Superliga A-kampioene op Charles Morkel oortuigend 24-10 gewen.
Nie net die hoofwedstryd nie, maar ook die tweede en derde spanne se wedstryde het in Berge se guns geëindig.
Berge was so vroeg as die derde minuut op die telbord. Die skrumskakel Michael Visser het uit ’n vaste skrum met sy stewige flank Estehan Visagie gekombineer en die openingsdrie gedruk en ook met die doelskop geslaag (7–0).
Die vinnige punte het Valsbaai sterk gemotiveer en die spel het vir die grootste deel van die eerste helfte baie gelykop verloop.
Die volgende punte is eers in die 34ste minuut van ’n volle lynbeweging aangeteken via Visser, Darren Hendricks, die senters Lyn-Jay Hendricks en Quinn Bauman en die linkervleuel, Jeandre Lukas, wat die bal gekry het.
Lukas, wat gevaarlik gelyk het, het sy span se tweede drie (12-0) afgerond.
Die slot Malcolm van Wyk het in die laaste minuut van die eerste helfte ’n groot bres in Valsbaai se verdediging geslaan.
Bauman het besit gekry en Lukas gevoer, wat sy tweede drie gedruk het (rustydtelling 17-0). In die 58ste minuut ná volgehoue aanvalle het die besoekers ’n drie aangeteken (17-5), maar kort daarna het Hendricks sy span se vierde drie gedruk. Visser se doelskop was oor (24-5).
Valsbaai het ’n drie bygevoeg, wat die eindtelling op 24-10 te staan gebring het.
Helderberg het 28 spelers in die wedstryd gebruik en verskeie uitblinkers is geïdentifiseer. Hiervan was Jeandre Lukas – eers op linkervleuel en later op heelagter – duidelik op vorm. Goeie spel is gelewer deur die losskakels Darren Hendricks en JJ Stover, die senters Quiwin Bauman en Lyn-Jay Hendricks en die heelagter Keaton Gordon. Die skrumskakel Michael Visser het sy goeie 2022-vorm weer teen toon gestel.. Ander uitslae: Helderberg II 17-15 Valsbaai II; Helderberg III 10-7 Valsbaai III; Helderberg o.20 3-17 Valsbaai o.20.. Saterdag ontvang Helderberg die Bolandliga-kampioene Saldanha met drie senior spanne en ’n o.20-span.



