Die toneel in Casablanca waar ’n skietvoorval die lewe van die 35-jarige Marco Hess geëis het.


Skote het die afgelope naweek weer in die Strand begin klap toe ’n vermeende bendeverwante skietgeveg in ’n woongebied van die plaaslike gemeenskap uitgebreek het.

Die voorval het Saterdagaand (8 Junie) in die Casablanca-woonbuurt afgespeel en die lewe van die vermeende bendelid Marco Hess (35) geëis.

Nog drie slagoffers – twee jong mans, 32 en 21, en ’n polisiebeampte – is in die skietvoorval gewond.

Hoewel gerugte die ronde doen met teenstrydige weergawes van wat gebeur het, is omstandighede rakende die voorval steeds onduidelik en deel van owerhede se ondersoek.

Luidens ’n polisieverslag het polisiebeamptes van die Strand omstreeks 19:15 op klagtes van ’n skietery in Geldenhuys-laan reageer. Die slagoffers is met die polisie se aankoms op die toneel met skietwonde aangetref.

Volgens die polisieverslag beweer die gewonde polisiebeampte, wat verbonde is aan die openbare orde-eenheid (Pops) en ten tyde van die voorval nie aan diens was nie, dat die oorledene na bewering lukraak op mense in die straat geskiet het. Die polisiebeampte beweer ook dat die oorledene hom met nadere ondersoek gewaar en toe skielik op hom ook losgebrand het. Die polisiebeampte is in die linkerbeen gewond en het uit selfverdediging met sy amptelike dienspistool op die verdagte teruggeskiet.

“Die verdagte het ’n skietwond bo sy regteroog, ’n skietwond in die linkerhand en drie skietwonde in die maag opgedoen. Hy is op die toneel dood en na die Tygerberg-lykshuis vervoer. Die oorlewende slagoffers is per ambulans na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling,” het die polisieverslag gelui.

Die polisieverslag het voorts aangedui dat beslag gelê is op een .22- patroon wat langs die oorledene se liggaam gevind is, asook die polisievuurwapen, ’n Z88-pistool.

Die plaaslike polisie het voorlopig drie sake van poging tot moord asook ’n saak van moord geopen.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het by navraag bevestig dat die ondersoek deur die polisiewaghond oorgeneem word vir verdere ondersoek.

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder vir die Strand se Gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF), het sy misnoeë uitgespreek oor skietmoorde, wat verband hou met dwelmhandel en bendegeweld, en ná ’n stilte van korte duur nou weer kop uitsteek en die gemeenskap teister.

Thysen het bygevoeg hoewel die voorval ’n vermeende bendelid geëis het, besef die GPF dat dit steeds ’n kosbare lewe is wat ontydig kortgeknip is.

“Benewens die oorledene se vermeende betrokkenheid by bendebedrywighede, verneem ons ook dat hy wel nederig en goedhartig was,” het Thysen gesê. “Wat ook al die omstandighede rondom die voorval – die reg moet sy beloop neem.”

Die oorledene, Marco Hess.

Die oorledene, Marco Hess.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article