“Hoor hoe skiet die mense. Waar is die polisie? Waar is die polisie? Dit gaan soos klappers in ons gemeenskap!”

’n Inwoner van Broadlandspark het dié stemgreep gestuur kort nadat Eugene Daniels ook bekend as “Miegiets” Sondag (18 September) teen omstreeks 16:30 in ’n vermeende bendeskietery twee keer in die bors getref is.

Die Strand-polisie het bevestig ’n poging tot moord-saak word ná die skietvoorval in Broadlandspark ondersoek. Die polisie het ook bevestig dat die 34-jarige slagoffer ’n lid van die 28’s tronk-bende is.

Adjudant-offisier Nico Beukes, die Strand-polisie se woordvoerder, het bevestig drie 9 mm-patroondoppies is voor ’n huis in Petuniastraat gevind, al het die skietvoorval eintlik in Violetstraat plaasgevind. “Die slagoffer het op die toneel mediese behandeling ontvang en kon dus nie ondervra word nie. ’n Groot groep mense het om die slagoffer saamgedrom en die mense het met die polisiebeamptes op die toneel gestry, maar niemand wou enige inligting oor die skietery verskaf nie,” het Beukes gesê.

Die Strand-polisie het genoem geen verdagtes is nog geïdentifiseer of in hegtenis geneem nie.

Jannie Frieslaar, die nuut aangestelde voorsitter van die Strand-gemeen­skapspolisiëringsforum (GPF), het gesê die GPF sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die verdagtes in soortgelyke skietvoorvalle vervolg word en nie borgtog kry nie. “Ons as die GPF gaan dit ons missie maak om te verseker dat die verdagtes of beskuldigdes in ’n skietvoorval nie so maklik op borgtog vrygelaat word nie en dat die sake meer aandag kry. Die gemeenskap in Strand moet as een saamstaan sodat ons dié soort misdaad kan uitwis,” het hy gesê.

Gerugte het Maandag die ronde begin doen dat Daniels dood is, maar die polisie sê dit is onwaar aangesien Daniels net ná ’n ander hospitaal toe oorgeplaas is om ’n delikate operasie te ondergaan nadat hy twee keer in die bors gewond is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article