’n Seun in die fleur van sy lewe het Dinsdag (19 Desember) sy lewe verloor nadat hy in die kop en bors geskiet is deur vermeende SOS-bendelede waarvan vier kort na die voorval gearresteer is.
Die Strand-polisie het bevestig dat Chad de Villiers (17) helderoordag teen omstreeks 13:05 in Petuniastraat in Broadlandspark geskiet is.
“Hy is gekonfronteer deur lede van die SOS-bende. Twee van hulle het vuurwapens gehad en die slagoffer in die bors en kop geskiet. Na die voorval is die slagoffer gehaas na ’n nabye hospitaal waar hy later oorlede is,” sê AO Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie.
Medelye vir De Villiers het kort na sy dood ingestroom. Strand Sekondêr (SS), waar hy nog ’n leerder was het met swaar harte die nuus gedeel op sosiale media en gevra dat almal sy familie en vriende in hul gebede hou.
Brendyn Alloys, ’n gemeenskapswerker wie ’n lang pad saam met Chad en sy gesin gestap het vertel dat hy “vasgevang en blootgestel” is aan ’n lewe van “bendegeweld en dwelmhandel” en dit het dit vir Chad “ongelooflik baie moeilik gemaak” om van dit af weg te draai.
“Hy wou weg stap van daardie leefstyl af, maar dit was baie moeilik vir hom. Ek het ’n paar weke gelede vir Chad ’n aansoek voltooi om na Chrysalis Academy te gaan om hul jeugontwikkelingsprogram te voltooi. Hy het baie potensiaal gehad en was ’n intelligente jong man wat kon uitstyg ten spyte van sy omstandighede,” voeg Alloys by.
Op sosiale media het mense hom beskryf as ’n “pragtige seun” en iemand wie gemis gaan word vir sy “mooi maniere”.
Morichia Jansen, Chad se ma, bevestig haar seun is op sy oupa se verjaarsdag geskiet.
“Hy was ’n oupa- en ’n ouma-kind gewees. Hy was in Graad 11 maar sou volgende jaar by Chrysalis Academy gaan aansluit omdat hy homself met die verkeerde dinge besig gehou het, nes baie ander jong seuns. My kind was nie ’n engeltjie nie maar hy het nog nooit ander mense se kinders dood geskiet nie. Chad was my kind en niemand het die reg gehad om sy lewe kort te knip nie,” vertel sy hartseer ma.
Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die voorval betreur en Strand-polisie se bestuur versoek om dringende stappe in plek te sit om die huidige vlaag van bendegeweld en moorde op jongmense te bekamp.
“Ons gemeenskap se veiligheid en vryheid van beweging word ingeperk deur die gereelde bendeverwante-skietvoorvalle. Die inwoners voel onveilig in hul eie woonbuurt. Die GPF het die polisie gevra dat hulle hulp moet inroep vanaf ’n kluster-vlak om die bendegeweld te help stabiliseer,” sê Thysen.
Jansen bevestig dat daar nog geen begrafnisreëlings in plek is nie want die outopsie moet nog voltooi word.
– Die vier verdagtes maak op Vrydag 22 Desember hul eerste verskyning by die Strand-landdroshof.



