Die Helderberg-gemeente treur saam met naasbestaandes oor die verlies van Daniel Benadé, wat die sake-dryfkrag agter die destydse Benbel-handelsmerk was.


Talle roubeklaers het Maandag (18 Maart) die gedenkdiens van Daniel Stefanus Benadé bygewoon om hul laaste eer te betoon aan die welbekende sakereus wat met ’n hart gloeiend van warmte vir sy medemens diep spore in die Helderberg-gemeenskap getrap het.

Benadé, wat die stigter van die Benbel-winkelgroep was, is op Donderdag 7 Maart ná nege weke in die waaksaal by die Mediclinic Vergelegen aan natuurlike oorsake oorlede.

Die 64-jarige geliefde eggenoot, pa en oupa se nalatenskap van omgee vir ander en sy lewenswyse om altyd te help waar hy kon, is tydens die dankdiens, wat Maandagmiddag in die NG kerk Helderberg gehou is, gevier. Roubeklaers is met die aandenking van ’n boekmerkie by die deur gegroet, en hartlik deur ds. Danie O’Kennedy, wat die diens gelei het, verwelkom. Ná die openingsgebed en samesang van die lied “Soos ’n wildsbok” het die skriflesing uit Psalm 23 gevolg.

O’Kennedy het meegedeel dat Daniel nes die digter-bidder van Psalm 23, Dawid, beleef het dat die Here sy herder is – ten spyte van die op-en-af-tye, insluitend sy diagnose van klierkanker op die ouderdom van nege gevolg deur ’n terugslag as 11-jarige met toenemende kommer oor sy lewensverwagting; die verlies van sy tweede seun, klein Jan op die ouderdom van twee, asook dié van sy geliefde ouers; die diagnose van prostaatkanker; sy eerste hartklepvervanging ’n klomp jare terug; en die sluiting van sy ondernemings onder meer.

“En vandag is ons ook dankbaar, dankbaar dat die Here vir hom as herder gesorg en gehelp het. En dat ons hom kon ken; dat hy ’n spesiale persoon geskep het. Dankie vir 64 jaar op aarde, daarby meer as wat die dokters gedink het toe hy jonk was. Dankbaar vir 40 jaar van ’n gelukkige huwelik met Gerda . . . Dankbaar vir drie kinders. Twee kleinkinders wat ook sy hart se punt was. Dankbaar vir sy liefde vir mense. Dankbaar dat hy ’n gee- mens was. Ons sê dankie vir wat hy deur sy onderneming vir baie mense beteken het. Ons dank die Here ook vir sy diep geloof in God drie-enig. Hy het die vrug van die Heilige Gees uitgeleef en enduit daarin volhard.”

Met stories verweef

Die huldeblyk is deur Benadé se jongste seun en naamgenoot, Stefan, gelewer. Hy het briefies en stukkies papier wat sy pa oor die jare heen in sy lessenaar bewaar het, saam met stories verweef om die patriarg se lewe te skets. “Daniel Stefanus Benadé was 30 toe ek gebore is en 64 toe hy dood is. Ek het hom net vir die helfte van sy lewe geken, maar helfte van sy lewe is my hele lewe tot dusver,” het hy ter inleiding gedeel.

Benadé is op 9 November 1959 as die jongste van drie kinders gebore en het in Paarl grootgeword. In 1966 het hy sy skoolloopbaan voortgesit. Op nege is ’n geswelde klier in sy nek as Hodgkin se siekte gediagnoseer, waarvoor hy in die Groote Schuur-hospitaal bestraling ontvang het. In 1971 het dieselfde siekte in sy maag te voorskyn gekom en hy is met behandeling genees. Toe hy aangesterk het, kon hy op skoolvlak aan rugby, sosiale tennis, swem, tafeltennis en branderplankry deelneem.

Benadé het in 1977 aan Paarl Boishaai (Hoër Jongenskool Paarl) gematrikuleer. Hy was sy lewe lank trots om deel te wees van die old boys van Paarl Boishaai en het nie ’n reünie misgeloop nie.

In ’n Facebook-inskrywing deel die Paarl Boys’ High Old Boys Union: “Dit is met groot hartseer dat ons van die heengaan van Daniel Benadé (MX 1977) verneem het. Ons innige simpatie en medelye aan sy familie, vriende en klasmaats. Tandem Fit Arbor Surculus.”

Hoofborg

Benadé het ’n BCom-graad in landboubestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Onder sy loopbaan-hoogtepunte is sy betrokkenheid by Natural Energy Surf Shop as een van die eerste vennote, Surfboard Shaper, Mica Hardware en, natuurlik, Benbel. Benadé het in 2003 weggebreek van die nasionale aankopegroep en onder die Benbel-naam ’n hardewarewinkel tesame met ’n volledige tuinsentrum begin bedryf. In sy hoedanigheid as stigter en betrokke direkteur het Benadé die jaarlikse Benbel-interskole begin, vir baie jare as hoofborg van die Hospice Open Gardens gedien, en menige gemeenskapsor­ganisasie en instansie onder­steun.

Laerskool De Hoop het op sy Facebook-blad gedeel: “Ons wens ons vriend Daniel Benadé die ewige rus toe. De Hoop sal hom altyd eer vir sy lojale ondersteuning oor al die jare, asook die rol wat hy in die uitbou van veral die interskole-byeenkomste gelewer het.”

Benadé se sukses oor die dekades heen kan toegeskryf word aan sy bewonderenswaardige werksetiek van hardwerkendheid, sy merkwaardige omgee en die belangrikheid wat hy geheg het aan persoonlike verhoudings bou met mense.

Sy naasbestaandes koester soete herinneringe van hoe hy graag die potte laat prut het en in sy element was by familiebyeenkomste. Hulle bewonder hom veral vir sy positiewe ingesteldheid wat geen gesondheidsprobleem of lewensomstandigheid kon demper nie.

Benadé word oorleef deur sy vrou, Gerda, oudste seun, Merwe en sy eggenoot Talita asook hul kinders Behati en Daniel, jongste seun Stefan, ouer sibbe, suster Susan en haar man, Berdus, en broer Paul en sy vrou, Nokkie.

Die Benadé-gesin deel die volgende boodskap met die gemeenskap: “Dankie vir die waaksaal-span by Mediclinic Vergelegen wat saam met hom geveg het. Dankie vir almal se ondersteuning in hierdie hartseer tyd.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article