Cheslynn Benn, ’n gemeenskapsaktivis, spreek betogers op 11 Mei by ’n vreedsame optog by die Gustrouw-kliniek toe. Foto: Rick Marais


Inwoners van Gustrouw het ’n paar weke gelede in gietende reën aan ’n vreedsame optog deelgeneem en ’n lys klagtes aan die bestuur van die Gustrouw-kliniek in Strand oorhandig.

’n Verteenwoordiger van die departement van gesondheid het sewe dae later eers antwoorde op al die klagtes van die gemeenskap verskaf, maar volgens ’n gemeenskapsaktivis moet al die beloftes eers nagekom word voordat inwoners dit sal glo.

’n Groep betogers onder die leiding van Cheslynn Benn, ’n gemeenskapsaktivis van Gustrouw, het op Donderdag 11 Mei ’n vreedsame betoging op die perseel van die kliniek gehou.

“Ons mense word so sleg by die kliniek behandel. Eerstens moet bejaardes, mammas met babas en siekes in lang rye buite die kliniek se hekke staan. Hulle staan dag ná dag in die son, reën, wind en koue. Sodra hulle by die kliniek ingaan, begin al die probleme,” het Benn gesê.

Die ander klagtes het ingesluit wan-kommunikasie tussen die personeel by die kliniek en pasiënte en die feit dat pasiënte se kwale glad nie vertroulik behandel word nie.

James Kruger, die direkteur van die departement van gesondheid se Khayelitsha- oostelike substruktuurkantoor, het op Donderdag 18 Mei terugvoer aan die betogers verskaf.

Die eerste klagte, wat verwys na die feit dat pasiënte buite die hek in ’n verskeidenheid weersomstandighede moet staan, is een wat Kruger as belangrik bestempel. “Die deure open eers teen 07:00, maar die bestuurder laat die hekke om 06:00 al oopmaak. Dit is nie moontlik om die hekke vroeër oop te maak nie, want ons het net twee wagte wat voor en agter die kliniek moet patrolleer,” sê Kruger.

Hy het ook bevestig die substruktuur sal met die departement van openbare werke praat om bykomende skuiling by die kliniek op te rig.

Verder het die ontstelde pasiënte versoek dat die kliniek se personeel hul inligting met groter vertroue moet hanteer en nie alles voor almal uitblaker nie. Dit het gebeur nadat mense gekla het veiligheidswagte roep pasiënte se kwale hardop uit voor almal en geen pasiënt-dokter-vertroue word gerespekteer nie.

Volgens Kruger het die pasiënt regte ingevolge die Grondwet. Die wet bepaal enige inligting oor iemand se gesondheid, insluitend inligting rakende die behandeling wat ’n pasiënt moet ontvang, mag net gedeel word indien die pasiënt toestemming daarvoor gee. “Ons wil ook al die vakante poste by die kliniek se komitee vul met benoemings van mense uit die gemeenskap. Die korrekte proses sal egter gevolg moet word. Die gemeenskap gaan ook die komitee help om ’n breër gemeenskaps-terugvoer-sessie te organiseer.

“Ons sal ons kommunikasie ten opsigte van dienste aan die gemeenskap verbeter,” het Kruger bygevoeg.

Benn het bevestig dat ’n opvolgvergadering vir Julie gereël is. “Ons sal eers dan kan sien of hulle al hul beloftes gaan nakom,” sluit Benn af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article