’n Begrafnisdiens vir ’n bekende bejaarde van Somerset-Wes, Herman Titus vind Saterdag (30 Maart) om 09:30 in die Kerkstraat Metodiste-kerk plaas. Die diens, wat ter viering van Titus se lewe gehou word, word voorafgegaan deur ’n besigtiging by die kerk om 09:00. Titus is Dinsdag 19 Maart weens natuurlike oorsake in die ouderdom van 89 in Helderberg-hospitaal oorlede – dít nadat die geliefde inwoner en sy gesin byna twee jaar gelede uit hul brandende tuiste gered is (“Gesin vra hulp nadat huis brand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 18 Mei 2022). Die bejaarde familie-patriarg, wat tydens die voorval in die brandende huis vasgekeer was, is danksy die reddingspogings van twee dapper plaaslike brandbestryders van ’n vlammedood gered. Hoewel Titus, sy dogter Anthea October en haar kêrel, sy seun Marius Titus en ’n kleindogter die destydse voorval oorleef het, is hul erfenisryke woning, wat op sendingterrein in Kerkstraat, Somerset-Wes, geleë is, heeltemal van binne vernietig. Hy word oorleef deur sy dogter, seun, drie kleinkinders en een agterkleinkind.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article