SenCIT Resthaven-bestuurder Sr. Smith by stoorhuisie waar klere tussen 18-23 Julie gesteel is.
Sr. Charlotte Smith by die stoorhuisie waar klere vir bejaardes tussen 18 en 23 Julie gesteel is.

Bejaarde tehuis besteel: Klere vir behoeftiges verdwyn

SenCIT Resthaven-bestuurder Sr. Smith by stoorhuisie waar klere tussen 18-23 Julie gesteel is.
Sr. Charlotte Smith by die stoorhuisie waar klere vir bejaardes tussen 18 en 23 Julie gesteel is.

Sr. Charlotte Smith, die bestuurder van SenCIT Resthaven-tehuis vir bejaardes, vra meer beskerming vir die tehuis nadat inbrekers verlede week klere wat vir die mees behoeftige bejaardes bedoel was, gesteel het.

Volgens ‘n verslag van die Strand-polisie het ‘n inbraak tussen Vrydag 18 en Woensdag 23 Julie by die tehuis in Thomasstraat, Rusthof plaasgevind waar sakke klere, kruideniersware, ‘n hark en skilderye gesteel is. Die verdagtes is onbekend en die polisie ondersoek die saak.

“Dis ‘n skande om van minder bevoorregde bejaardes te steel,”

Sr. Charlotte Smith, die bestuurder van SenCIT Resthaven-tehuis vir bejaardes.
SenCIT Resthaven-bestuurder Sr. Smith by stoorhuisie waar klere tussen 18-23 Julie gesteel is.
Sr. Charlotte Smith, bestuurder van die SenCIT Resthaven-tehuis vir bejaardes, langs die stoorhuisie waar klere tussen Vrydag 18 en Woensdag 23 Julie gesteel is.

Sy is geskok deur die misdaad en sê die inbrekers het toegeslaan nadat die sentrum klere uit die gemeenskap ingesamel het. Die klere is eers gesorteer en onder inwoners verdeel, en dit wat oorgebly het, is buite in ‘n stoorhuisie op die fasiliteit se perseel bewaar.

“Ons samel gereeld klere in en dis baie belangrik vir ons inwoners, want sommige van die oumense is baie minder bevoorreg. Dit wat oorbly, verkoop ons om geld in te samel,” sê Smith.

Sy verduidelik die inbraak het plaasgevind nadat twee van die sentrum se vrywilligers die klere wat verkoop sou word, op Donderdag 17 Julie in die stoorhuisie geberg en dit toegesluit het.

Smith het die inbraak eers Woensdag 23 Julie ontdek toe sy iemand gestuur het om iets uit die stoorhuisie te kry. Sy het toe eers gesien die ketting van die slot aan die deur is afgesny. Dit het gevolg ná ‘n week waarin die bejaardesentrum Mandeladag op 18  Julie gevier en baie vrywilligers verwelkom het wat die sentrum se tuin skoongemaak het.

"Deurgeknipte ketting en slot van stoorhuisie waar klere gesteel is.
Die ketting en slot wat deur inbrekers gesny is om toegang tot die stoorhuisie te kry.

Die misdaad is onmiddellik daarna by die Strand-polisie aangemeld en danksy die sentrum se CCTV-kameras kon hulle vasstel wanneer die inbraak plaasgevind het.

“Ons weet nie wie dit gedoen het nie, maar die inbraak bewys net die veiligheidsprobleem waarmee ons worstel,” beklemtoon Smith.

Die ironie is dat die opbrengs van die gesteelde klere juis vir die opgradering van die sentrum se verouderde veiligheidskameras bestem was.

“Veiligheid is ‘n groot bekommernis vir ons en ons doen ‘n beroep op die polisie en private veiligheidsmaatskappye om meer patrollies by die sentrum te doen om die kwesbare inwoners te help beskerm,”

sê Smith.

AO Nico Beukes, ‘n woordvoerder vir die Strand-polisie, het verduidelik dat patrollies volgens misdaadpatrone geskeduleer word en Sektor 1, waar SenCIT geleë is, is ‘n problematiese gebied en dra by tot kontakmisdade.

Beukes het bygevoeg ‘n ander rede vir minder sigbare patrollies in die gebied is omdat die plaaslike buurtwag tans nie aktief is nie, maar die polisie is besig om die probleem op te volg.

“Ons raai ook sakeondernemings en instellings aan om by veiligheidsmaatskappye aan te sluit wat kan help met reaksietyd en kritieke voorvalle,” sê Beukes.

Vir nou vra Smith die hulp van die gemeenskap om te herwin wat hulle verloor het deur skenkings en donasies.

Stoorhuisie waar inbrekers klere gesteel het.
Die stoorhuisie waarin inbrekers klere gesteel het.

Vir donasies of skenkings aan SenCIT Resthaven-tehuis vir bejaardes of vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak, kontak Smith by 081 420 4626 of die sentrum by 021 845 850 bel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article