Bejaarde se lyk in Somerset-Wes-agterplaas opgegrawe

Uitgiftstraat in Somerset-Wes waar die begraafde lyk van ’n 88-jarige-vrou ontdek is. Foto: Rick Marais


’n Geregtelike doodsondersoek is by Somerset-Wes polisie geopen nadat die lyk van ’n 88-jarige vrou, wat agter ’n woning in Uitgift-straat in Morningside begrawe is, die afgelope Saterdag (13 Januarie) ontdek is.

Die gruvonds is een van twee in die Helderberg en is vroeg Maandagoggend (15 Januarie) gevolg deur die lewelose liggaam van ’n middeljarige man wat hangend in Strand aangetref is. Luidens ’n polisieverslag het ’n verbyganger omstreeks 05:10 op die lyk, waar dit naby die ingang van ’n kuierplek gehang het, afgekom. Die verbyganger het ’n veiligheidsbeampte ingelig.

Die verslag dui verder aan dat die oorledene glo kort ná middernag nog by die Strand Pavilion-ingang, waar hy met ’n groot sak gesit het, deur wagte gesien is. ’n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie ingestel.

Sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het bevestig die bejaarde se lyk is omstreeks 08:30 Saterdag gevind.

“Die polisie het inligting bekom en die adres besoek. ’n Spesialis-eenheid van die polisie is ingeroep en ’n opgrawing is gedoen. Die 88-jarige se lyk is ontdek en aan die polisie se patologie-afdeling oorhandig.”

’n Lykskouing word gedoen om die oorsaak van haar dood te bepaal.

Tydens DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die adres was ’n veiligheidsbeampte buite die woning om die “besittings binne die huis” op te pas. Die wag wou nie inligting oor die woning of die eienaar verskaf nie.

Jantjies het bevestig sodra die polisie klaar is met hul ondersoek, sal die liggaam aan die familie oorhandig word.

“Ons kan geen verdere inligting verskaf nie omdat die ondersoek nog in ’n vroeë stadium is. Bykomende inligting sal beskikbaar wees sodra die ondersoek afgehandel is,” het Jantjies verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article