“Wat soek jy in my huis?”

Met dié woorde het Wilhelmina Cupido (73) ’n huisrower in haar huis in Gustrouw, Strand, betrap voordat sy oorrompel en in die voorval met ’n mes gesteek is.

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die voorval het omstreeks 03:15 verlede Donderdag (26 Januarie) plaasgevind toe Cupido die 38-jarige verdagte in haar huis betrap het.

“Ek was aan die slaap toe ek hoor hoe ’n plastieksak ’n geraas maak. Ek het geweet die sak is op my kas en iemand moes aan die sak gevat het om die geraas te kon maak. Dis toe dat ek die inbreker in my huis sien staan,” onthou Cupido.

Sy vertel sy was “rustig” deur die hele episode, maar het geskrik toe sy en die man begin stoei en hy haar toe in die arm gesteek het om los te kom. “Die man het geld en selfone geëis, en ek het gesê ek het niks soos dit in my huis nie. Hy het my huis toe deursoek.”

Daarna het die rower uit die huis gevlug en Cupido is met ’n bloeiende wond haar bure toe vir hulp.

Volgens Beukes het Cupido die verdagte as een van haar seuns se vriende herken, en dit het tot sy inhegtenisneming gelei.

“Die verdagte het Maandag in die Strand-landdroshof verskyn. Die verdagte is blykbaar ook in ’n vorige soortgelyke saak skuldig bevind en het hiervoor ’n opgeskorte vonnis ontvang,” sê Beukes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article