Lede van die polisie se forensiese eenheid soek na oorblyfsels nadat bene wat soos menslike oorskot lyk, op Gordonsbaai se strand gevind is.Foto’s: Rick Marais


Die Gordonsbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat strandgangers op wat gelyk het soos die beendere van ’n mens afgekom het.

Die gruvonds is verlede Vrydag (1 April) deur ’n vrou en haar kinders gemaak toe hulle op Gordonsbaai se hoofstrand gaan stap het.

Die polisie se forensiese span was Vrydagoggend vinnig op die toneel waar hulle die kuslyn binne ’n sekere radius oorkant ’n gesinsrestaurant gefynkam het. “Die vrou het omstreeks 06:00 die polisie in kennis gestel en beamptes het met hul aankoms die vermoedelike beendere-vonds aangetref. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die beendere is vir DNS-ontleding gestuur,” sê ’n Gordonsbaai-polisiewoordvoerder. “Die ondersoek duur voort en geen misdaad word op die oomblik vermoed nie.”

Die vonds het terugflitse gebring van ’n soortgelyke voorval waaroor DistriksPos byna ses jaar gelede berig het toe liggaamsdele op die strand uitgespoel het (“Lyk op Bikini-strand dié van jong man,” 17 November 2016). ’n Paartjie wat op die strand voor dieselfde restaurant geloop het, het vermoedelik die regterbeen van ’n man gekry. Patoloë het die been met die voet, wat ’n bruin leerskoen aangehad het, verwyder. Op nog ’n toneel dieselfde dag is die linkerbeen met dieselfde bruin leerskoen deur ’n strandganger van Durban, wat saam met haar kinders gaan swem het, in die water gevind. Sy het die skoen probeer uitvis toe sy ontdek dat die been nog aan die voet was. Albei skoene was grootte 9 en die bene onder die knie af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article