Die koeëlgat aan die buitekant van Hannelize de Lange se woning in Gustrouw.


“Ons lewe in vrees . . .”

Dít is hoe ’n vrou van Gustrouw die lewe tans ervaar nadat verskeie skote in die woonbuurt afgevuur is en dwaalkoeëls twee kinders in die oor-en-weer-skietery getref het.

Marie Pietersen, wat in Solly Arendsestraat woon, beskryf verlede Woensdagmiddag (4 Oktober) se gebeure as “bisar” en iets wat hulle “nie verwag het nie”.

“Bendelede het skiet-skiet uit ’n ander gebied gekom en in ons woonbuurt losgebrand. Van die bendes se dwaal-koeëls het ’n vrou, wat agter my woon, se bungalo getref en twee minderjarige kinders wat in die woning was, is raakgeskiet,” sê Pietersen.

Hannelize de Lange, wie se 15-jarige seun en sy vriend beide raakgeskiet is, kan nie glo dat so iets gebeur het nie.

“ ’n Klomp skote is afgevuur. ’n Struktuur agter my is getref. Toe gaan nog skote af, en my seun en ’n ander seun, wat by hom gekuier het, is in my huis se gang getref. Dit was darem net vleeswonde, maar die twee is erg geskok ná die voorval,” vertel De Lange.

Die gemeenskap is erg omgekrap weens die skietvoorval en dit is juis waarom ’n WhatsApp groep gestig is waarvan honderde inwoners in Gustrouw en verskeie ander misdaad-gevulde woongebiede in die Strand aangesluit het.

Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, het die groep op WhatsApp begin nadat verskeie mense haar ná die einste skietvoorval genader en gevra het om hulle by die groepie te voeg.

“Almal lewe in vrees. Die polisie is nie aanwesig in ons gemeenskappe nie. Sewe of agt skote word afgevuur in besige gemeenskappe naby skole en naby huise, maar die skuldiges, wat aan die gemeenskap en die polisie bekend is, loop steeds vry rond. Ons misdaad-gevulde gebiede in Strand het nie polisie soos die res van die omgewing nie, want die polisie doen nie hul werk hier nie,” sê sy beskuldigend.

Altesaam 240 mense het al by die groep aangesluit en Motasi belowe die groep, wat tans nog naamloos is, ’n drukgroep gaan wees wat ’n verskil in die gemeenskap gaan maak.

“Ons gaan na buite uitreik. Ons gaan die polisie van buite soek om te help, want hier in Strand gebeur niks nie. Klagtes word aangemeld, maar die skuldiges word nie aangekeer nie en genoeg is nou genoeg,” sê Motasi.

Die groep se planne kan nog nie met die media gedeel word nie, maar Motasi het bevestig die groep sal selfs so ver gaan om huiseienaars van skakelhuise in die gebiede verantwoordelik te hou as vuurwapens in hul huise gevind word.

“As die polisie vuurwapens in die huise kry, dan gaan ons die raadslid of regering vra om die huise van dié mense af weg te vat, want ons is moeg vir misdaad in ons woongebiede,” voeg sy by.

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig ’n 16-jarige-seun is Maandagaand (9 Oktober) ná die skietery in Gustrouw weens poging tot moord in hegtenis geneem.

Twee bykomende klagtes van poging tot moord is ook teen die verdagte aangemeld. Die verdagte was teen druktyd nog nie aangekla nie en dit sal ongeveer 48 uur neem vir die ondersoek om genoeg te vorder dat hy aangekla kan word, maar hy bly in hegtenis tot dan.

‘Pad vorentoe bespreek’

’n Misdaad-vergadering is Donderdag 28 September in Strand gehou nadat soortgelyke skietvoorvalle en ander misdade die verskeie gemeenskappe só erg ontstel het dat die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) genoodsaak was om ’n vergadering met bestuurslede van die Strand-polisie te reël. Die vergadering, wat onder die vaandel van ’n “Gemeenskaps-imbizo” gehou is, is by die Bethesda Evangelical Church in Broadlandspark gehou en het teen 18:00 begin.

Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, vertel lede van die GPF het met bestuurslede van die Strand-polisie by die imbizo ontmoet om ’n pad vorentoe rakende die misdaad te bespreek.

Van die kwessies wat deur die onderskeie gemeenskappe uitgelig is, is swak dienslewering deur die polisie en klagtes wat nie die nodige aandag geniet nie.

Beukes het bevestig die doel van die imbizo is om gemeenskappe se uitdagings te bespreek en gesamentlike oplossings te vind. “Die bendeverwante misdade in gevaargebiede soos Broadlandspark is in die vergadering aangehaal. Die kollig was ook op straat- en sakerooftogte, wat selfs bedags plaasvind, asook die justisie-kant waar oortreders van ernstige misdade te maklik borgtog kry,” sê Beukes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article