Die Robert Sobukwe-verpleegakademie se Strand-kampus het die afgelope naweek ’n baie suksesvolle gradeplegtigheid gevier.
Die geleentheid wat ’n gesamentlike seremonie met die Hermanus-kampus was, het Saterdag (19 November) by die Iqra-leersentrum in Hammondstraat, Strand, plaasgevind.
Altesaam 85 studente van die plaaslike tak en 15 van die Overbergse kampus het hul sertifikate in tuissorg en as gesondheidsorghulp ontvang.
“Ons wens alle studente geluk met hul prestasie en hoop dat hul hard-verdiende kwalifikasie vir hulle baie werksgeleenthede sal besorg,” het ’n woordvoerder gesê.
Sedert die Robert Sobukwe-verpleegakademie sy deure vir die opleiding van gesondheidsorgwerkers in Julie vanjaar oopgemaak het, het baie by die leerskool ingeskryf om as versorgers en assistent-verpleegsters op gelei te word. Dit het begin met ’n deeltydse groep by Strand Sekondêre Skool en die getalle het sedertdien gegroei. Die programme het uitgebrei en sluit noodhulpopleiding, MIV/vigs-berading en vinnige toetsing in.
Die Robert Sobukwe-verpleegakademie en sy geaffilieerde Africa Foundation of Learning wil ook aankondig dat hulle ander vaardigheidsprogramme in 2023 sal bekendstel.
“Die huidige ekonomiese klimaat in ons land noop werklose mense om hulself heroptelei vir nuwe werk en entrepreneursgeleenthede.
Ons bekommernis is dat die kritieke situasie van werkloosheid die rede is vir toenemende misdaad in ons gemeenskappe. Duisende van vanjaar se matrikulante sal beslis ’n invloed op die werkloosheidstatistiek hê.”
Die verpleegskademie aanvaar inskrywings vir 2023 vanaf Donderdag 5 Januarie en voltydse klasse sal Maandag 9 Januarie heropen. Registrasie sal by die Iqra-leersentrum plaasvind. Vir meer inligting, skakel 078 392 9842.



