Leigh-Mae Martin, ’n projek-koördineerder by Badisa Strand, wys na die gat in die dak waardeur boewe Maandag 14 Augustus toegang tot hul kantore verkry het.Foto’s: Rick Marais


’n Organisasie waarvan die doel is om die gemeenskap te dien, loop die afgelope maand deur onder inbrake – sinnelose dade vermoedelik gepleeg deur lede uit dieselfde gemeenskap wat die organisasie bedien.

Leigh-Mae Martin, ’n projek-koördineerder by Badisa Strand, sê die eerste inbraak was Dinsdag 3 Augustus, die tweede 11 dae later op Maandag 14 Augustus en in beide gevalle het die boewe deur die perseel se dak ingebreek om toegang tot die kantoor te kry.

Martin sê die eerste inbraak was by Badisa Strand se kantoorgebou in Libertystraat in Rusthof, in dieselfde tydperk as die taxi-staking toe die organisasie se kantore ’n paar dae gesluit was. “Ons kon nie presies bepaal wanneer die eerste inbraak plaasgevind het nie – dit was moontlik 3 Augustus.

“Twee van ons maatskaplike werkers het vertroulike dokumente in hul kantore en in die kantoor waar die inbraak plaasgevind het. Met daardie insident is daar deur die dak bokant hierdie kantore ingebreek. Niks is in die eerste poging gesteel nie, want ons dink die boewe is deur die sekuriteitsmaatskappy afgeskrik,” sê Martin.

Die organisasie het egter self die dak reggemaak, want hulle kon nie vir die versekering se assessors wag nie.

Sy sê hulle het toe vir elke kantoor ’n slot gekry, en daarna was hulle meer gerus.

Net toe die personeel by Badisa Strand, ’n organisasie sonder winsbejag, wat die gemeenskap deur sosiale projekte bedien, gedink het dis verby, slaan inbrekers weer toe, maar het dié keer met die organisasie se skootrekenaar en ’n selfoon weggekom.

“In die tweede inbraak verlede Maandag (14 Augustus) is weer deur die dak ingebreek, maar dié keer bo die raadskamer. Die boewe het die administratiewe kantoor se deur oopgebreek en blykbaar na ’n skootrekenaar wat tussen boeke weggesteek was, gesoek.

“ ’n Selfoon is ook gesteel. Die skootrekenaar is onvervangbaar, want dit het sensitiewe inligting op wat ons nog nie op enige ander hardeskyf geberg het nie. Die inbraak is ’n groot nadeel vir ons en die kwaaddoeners besef nie watter skade hulle vir ons veroorsaak het nie,” sê Martin.

Die Strand-polisie het bevestig ’n klagte van opsetlike saakbeskadiging is ná die eerste inbraak aangemeld. Die tweede saak is as ’n inbraak by ’n sakeperseel geregistreer.

“Ons is besig om al twee sake te ondersoek. Die selfoon is al geswartlys. Ons hoop om die organisasie se gesteelde goedere vir hulle terug te kry en die skuldiges in hegtenis te neem. Ons weet op hierdie tydstip nog nie wie die verdagtes is nie, maar ons volg al ons leidrade op,” het ’n woordvoerder van die Strand-polisie gesê.

Martin is tans besig om kwotasies te kry vir veiligheidshekke wat voor al die ingange geïnstalleer gaan word, maar ongelukkig kan die organisasie nie bekostig om alles op een slag te doen nie.

“Ons is tans in gesprek met die Stad Kaapstad; ons het hulle genader om heinings buite om ons perseel op te rig. Indien enige inwoner of sakeonderneming met ons wil hande vat en ons kan help om ons perseel te beveilig, kan hulle ons by 021 853 1888 skakel,” sê Martin.


V

Kol. Franklin Plaatjies, die speurhoof van die Strand-polisie, vra die gemeenskap om die Strand-polisie by 021 854 9100 te skakel indien hulle enige inligting oor die misdaad het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article