Die Strand-tak van Badisa het in 2021 met die blink idee vorendag gekom om huismoeders aan te stel wat deur die dag kinders op hul perseel kom versorg.
Die probleem is die Voetspoortjies-projek het só vinnig uitgebrei dat die Badisa-werkers nou ekstra hande benodig om die kinders te help versorg.
Leigh-Mae Martin, ’n projek-koördineerder by Badisa Strand, het die Voetspoortjies-program van stapel gestuur. Teen die einde van verlede jaar het vier huismoeders deur die dag na 31 kinders by die Badisa-kantoor in Rusthof omgesien.
Dit was nie altyd so maklik nie, want heel aan die begin van die projek moes die huismoeders die kinders by hul eie huis versorg.
“Die huismoeders het gesukkel, want hul huise was nie groot genoeg vir al die kinders nie. Ons het ’n ruimte in ons gebou gehad – dit was eers die nutswinkel, maar ná baie inbrake en ’n klomp probleme het ons dié deel van die gebou toegebou en dit was net ’n oop ruimte. Ek het toe voorgestel ons kan dit as klaskamers en ’n kombuis inrig, waar ons na die 31 kinders kon omsien,” het Martin vertel.
Die projek het so vinnig uitgebrei en gegroei dat die organisasie hul vrywillige huismoederdienste verder in die Strand-gemeenskap wil uitbrei.
“As jy werkloos is en jou dienste vrywillig aan die gemeenskap wil lewer, en as jy ’n passie vir kinders het, dan soek ons jou,” aldus Martin. “As jy kinders se lewe wil verander, dan soek ons jou, want die projek help om kinders wat vroeg soggens tot laat saans sonder toesig in die strate speel, te stimuleer en skoolgereed te kry.”
Volgens Martin sal Badisa Strand die keuring en opleiding vir die projek verskaf.
“Ons het vandag (Woensdag 15 Februarie) om 10:00 asook Vrydag 24 Februarie inligtingsessies vir die Voetspoortjies-projek by ons perseel by Libertystraat 126, Rusthof,” het sy afgesluit.
Skakel Martin by 021 853 1888 van 08:00 tot 16:00 vir meer inligting.



